1 Korintiërs 6

6
Gelowiges mag mekaar nie na die hof vat oor enige iets nie
1Ek hoor party van julle vat ander gelowiges na die hof. Hoekom doen julle dit? Julle wil hê die regters wat nie gelowiges is nie, moet die probleem regmaak. Hoekom vra julle nie vir gelowiges in die gemeente om die probleem reg te maak nie? Dit sal beter wees. 2Julle almal weet dat die gelowiges eendag die mense van die wêreld sal oordeel. Daarom kan julle self die klein probleempies regmaak wat julle met mekaar het. 3Julle almal weet ook dat ons eendag die engele sal oordeel. Daarom moet dit vir julle maklik wees om ook die gewone probleme reg te maak wat julle met mekaar het. 4Julle wat in die gemeente is, respekteer nie die regters van die wêreld nie! Hoekom vra julle dan dat húlle moet besluit oor julle gewone probleme? 5Ek sê dit sodat julle skaam moet word. Ek is seker daar is party van julle wat verstandig is en wat kan sê hoe gelowiges hulle probleme kan regmaak. 6Maar nou vat die een gelowige 'n ander gelowige na die hof, en julle vra vir regters om julle te help, regters wat nie gelowiges is nie. 7Julle het al klaar julle naam sleg gemaak omdat julle probleme het en mekaar daaroor na die hof vat. Hoekom is julle nie geduldig wanneer iemand verkeerde dinge aan julle doen of julle kul en julle goed vat nie? 8Maar nou is júlle die mense wat verkeerde dinge doen aan ander mense, dit is júlle wat vir hulle kul en hulle goed vat. En julle doen dit aan gelowiges! Ek is geskok. 9-10Julle weet dat mense wat verkeerd lewe, nie sal kom waar God Koning is nie. Julle moet reg verstaan: Mense wat onsedelik lewe, sal nie kom waar God Koning is nie, ook nie mense wat afgode aanbid, of mans wat met ander mans se vroue seks het, of mans wat met ander mans seks het, of mense wat steel, of mense wat altyd meer en meer geld en goed wil hê, of mense wat altyd dronk is, of mense wat lieg en lelike dinge van ander mense sê, of mense wat ander mense aanval en hulle geld vat nie. 11Ja, party van julle het hierdie dinge gedoen. Maar nou het God julle sondes afgewas, Hy het julle aan Hom gewy. Hy het julle vrygespreek omdat julle aan die Here Jesus Christus behoort en omdat die Gees van ons God in julle harte gewerk het.
'n Mens se liggaam is 'n tempel van die Heilige Gees
12Ek weet julle sê 'n mens mag alles doen. Maar julle moet onthou: Alles is nie goed vir 'n mens nie. Julle sê 'n mens mag alles doen, maar ek sê jy mag nie iets so belangrik laat word dat dit oor jou regeer nie. 13Julle sê ook kos moet na 'n mens se maag gaan, en die maag moet kos kry. Maar julle moet onthou: Die kos en 'n mens se maag behoort altwee aan God. God sal dit vir ons wys wanneer Hy eendag kom en besluit dat die maag en kos nie meer nodig is nie. Dit is dieselfde met 'n mens se liggaam: Die Here het ons liggame gemaak, nie om onsedelik te lewe nie, maar om Hom te dien. Ons liggame behoort aan die Here. 14God het die Here Jesus weer laat lewe, en so sal God ons ook eendag weer laat lewe, Hy sal dit doen met sy krag. 15Julle moet weet ons liggame behoort aan Christus. Daarom mag julle liggame nie ook aan 'n prostituut behoort nie. 16Julle weet almal dat wanneer 'n mens seks het met 'n prostituut, dan word jou liggaam en haar liggaam saam één liggaam. Want in die Ou Testament is geskryf:
Hulle twee sal soos
een mens wees.
17Maar as 'n mens saam met die Here lewe, dan is jou gees en sy Gees een. 18Julle moenie onsedelik lewe nie. Al die ander sondes wat 'n mens doen, doen hy nie aan sy liggaam nie, maar wanneer hy onsedelik lewe, dan is dit 'n sonde wat hy aan sy eie liggaam doen. 19Julle moet weet dat 'n mens se liggaam 'n tempel van die Heilige Gees is. God het sy Gees vir julle gegee om in julle te woon. Daarom behoort julle nie aan julleself nie. 20God het duur betaal toe Hy julle gekoop het vir Hom. Daarom moet julle vir God prys met julle liggame.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan