1 Konings 15

15
Abija, koning van Juda
(Kyk ook 2 Kron 13:1-20)
1Abia het koning van Juda geword in die agtiende jaar nadat Jerobeam seun van Nebat koning geword het. 2Abia was drie jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Maäka dogter van Abisalom. 3Abia het dieselfde sondes gedoen wat sy pa vóór hom gedoen het. Hy het nie die Here met sy hele hart gedien soos sy voorvader Dawid nie. 4Maar omdat die Here lief was vir Dawid, het die Here iemand uit Dawid se nageslag koning laat word in Jerusalem, sodat die lamp van Dawid se nageslag daar kon aanhou brand. Die mense van Jerusalem was veilig. 5Die Here het iemand uit Dawid se nageslag gekies omdat Dawid dinge gedoen het waarvan die Here hou en omdat hy sy hele lewe lank gehoorsaam was aan alles wat die Here gesê het. Hy het net een maal verkeerd gedoen toe hy Urija die Hetiet se vrou gevat het en vir Urija laat doodmaak het. 6Daar was altyd oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam terwyl Rehabeam gelewe het.
Abia sterf
(Kyk ook 2 Kron 13:22; 14:1)
7Al die ander dinge wat Abia gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Daar was oorlog tussen Abia en Jerobeam. 8Abia het gesterf, en hulle het hom begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het koning geword ná hom.
Asa, koning van Juda
9Asa het koning van Juda geword in die twintigste jaar nadat Jerobeam koning van Israel geword het. 10Asa was 41 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ouma was Maäka, dogter van Abisalom. 11Asa het dinge gedoen waarvan die Here hou, soos sy voorvader Dawid ook gedoen het. 12Asa het die tempel-prostitute uit die land laat wegjaag en hy het al die afgode laat wegvat wat sy voorvaders gemaak het. 13Hy het ook gesê sy ouma Maäka sal nie meer belangrik wees omdat sy 'n koning se ma is nie, want sy het 'n beeld laat maak van die godin Asjera. Asa het die beeld laat afkap en hy het dit laat verbrand in die Kedron-vallei. 14Die offer-plekke was nog daar, maar Asa het die Here met sy hele hart gedien terwyl hy gelewe het. 15Hy het die wydingspresente van sy pa, en ook sy eie wydingspresente in die tempel gesit. Dit was goud, silwer en gereedskap.
Asa maak 'n ooreenkoms met Ben-Hadad, koning van die Arameërs
16Daar was altyd oorlog tussen Asa en Baesa, koning van Israel. 17Baesa, koning van Israel, het vir Juda aangeval en hy het die stad Rama gebou en sterk gemaak, want hy wou keer sodat mense nie na koning Asa toe kan gaan en weer kan terugkom nie. 18Asa het toe al die silwer en die goud geneem wat nog in die tempel en in die paleis was, en hy het dit vir boodskappers gegee om dit na Ben-Hadad te neem. Ben-Hadad was die seun van Tab-Rimmon seun van Gesjon, en hy was die koning van die Arameërs. Asa het vir hom hierdie boodskap gestuur: 19“Daar was 'n ooreenkoms tussen jou pa en my pa. So moet ek en jy ook 'n ooreenkoms maak. Ek stuur vir jou hierdie present, die silwer en die goud. Jy moet nou jou ooreenkoms met Baesa breek, dan sal hy weggaan uit my land.”
20Ben-Hadad het gedoen wat koning Asa gevra het en hy het die hoofde van sy leër gestuur om die stede van Israel aan te val. Hulle het die stede Ijon, Dan, Abel en Bet-Maäka oorwin, en ook al die plekke in Gennesaret en die land Naftali. 21Toe Baesa dit hoor, het hy opgehou om die stad Rama te bou en sterk te maak, en hy het na die stad Tirsa teruggegaan. 22Koning Asa het al die mense van Juda laat roep. Hulle moes almal kom. Hulle het die klippe en die hout weggedra wat Baesa wou gebruik om die stad Rama te bou. Koning Asa het die stad Geba in die land Benjamin en die stad Mispa gebou met daardie klippe en hout.
Asa sterf
(Kyk ook 2 Kron 16:11-14; 17:1)
23Al die ander dinge wat Asa gedoen het, ook die belangrike dinge en die stede wat hy gebou het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Juda. Toe hy oud was, het hy siek geword, sy voete was baie seer. 24Hy het gesterf, en hulle het hom begrawe in die stad van sy voorvader Dawid. Asa se seun Josafat het koning geword ná hom.
Nadab, koning van Israel
25Nadab seun van Jerobeam het koning van Israel geword in die tweede jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Nadab was twee jaar lank koning van Israel. 26Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Sy pa Jerobeam het die mense van Israel sonde laat doen, en Nadab het dieselfde gedoen, hy het dieselfde sondes gedoen wat sy pa gedoen het. 27Nadab en al die manne van Israel het die stad Gibbeton aangeval van al die kante. Die stad was in die land van die Filistyne. Baesa seun van Agija van die Issaskar-stam het saam met ander mense 'n plan gemaak teen Nadab, en hulle het hom doodgemaak. 28Dit was in die derde jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Baesa het toe die koning van Israel geword ná Nadab. 29Nadat Baesa koning geword het, het hy begin om almal in die koningshuis van Jerobeam dood te maak. Hy het niemand van Jerobeam se nageslag laat aanhou lewe nie. Dit alles het gebeur soos die Here voorheen vir sy dienaar Agija van Silo gesê het om vir die mense te sê. 30Dit het gebeur omdat Jerobeam daardie sondes gedoen het en omdat hy die mense van Israel sonde laat doen het. Jerobeam het die Here, die God van Israel, kwaad gemaak. 31Al die ander dinge wat Nadab gedoen het, is geskryf in die dagboeke van die konings van Israel. 32Daar was altyd oorlog tussen Asa en koning Baesa van Israel.
Baesa, koning van Israel
33Baesa seun van Agija het koning van Israel geword in die derde jaar nadat Asa koning van Juda geword het. Baesa was 24 jaar lank koning in Tirsa. 34Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie. Hy het gedoen wat Jerobeam gedoen het. Jerobeam het die mense van Israel sonde laat doen, en Baesa het nou dieselfde sondes gedoen.

Tans Gekies:

1 Konings 15: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan