2 Kronieke 25

25
Amasia maak die moordenaars van sy pa dood
(Kyk ook 2 Kon 14:1-6)
1Amasia was 25 jaar oud toe hy koning geword het, en hy was 29 jaar lank koning in Jerusalem. Sy ma was Jehoaddan, sy was van Jerusalem. 2Amasia het dinge gedoen waarvan die Here hou, maar hy het dit nie met sy hele hart gedoen nie. 3Toe hy seker was dat hy koning sal bly, het hy sy amptenare wat sy pa vermoor het, laat doodmaak. 4Hy het nie hulle kinders ook doodgemaak nie, want daar is geskryf in die Wette van Moses dat die Here gesê het: “ Wanneer 'n kind sonde doen, dan moet sy pa nie daaroor sterf nie, en wanneer 'n pa sonde doen, dan moet sy kind nie daaroor sterf nie. Elkeen mag net sterf oor dit wat hyself verkeerd gedoen het.”
Amasia oorwin die Edomiete
(Kyk ook 2 Kon 14:7)
5Amasia het gesê die manne van Juda moet bymekaarkom, die families moet in groepe bymekaarkom. Hy het ook hoof-offisiere en ander offisiere gekies en aangestel, hulle was die leiers van al die manne van die Juda-stam en die Benjamin-stam, al die manne wat 20 jaar oud en ouer was. Hy het gesê hulle moet die manne tel, en daar was 300 000 manne wat oorlog kon gaan maak met spiese en skilde. 6Amasia het ook nóg 100 000 manne van Israel gehuur wat goed oorlog kon maak. Hy het 100 talente silwer betaal. 7Maar 'n man van God het na hom toe gekom en gesê: “Koning, jy moenie die leër van Israel saam met jou laat gaan nie, want die Here hou nie van Israel nie, Hy hou nie van die Efraim-mense nie. 8Jy dink miskien daardie leër sal jou sterk maak vir die oorlog, maar God sal jou laat verloor teen die vyande, want God kan 'n leër help om te wen, of God kan hulle laat verloor.”
9Amasia sê toe vir die man van God: “Ek het 100 talente betaal vir die manne van Israel. Wat sal van daardie geld word? Moet ek dit alles verloor?”
Die man van God het geantwoord: “God kan vir jou baie meer gee as dit.”
10Amasia het toe die groep soldate teruggestuur huis toe, die soldate wat van Efraim na hom toe gekom het. Die soldate was baie kwaad vir die koning en vir die mense van Juda, hulle het kwaad huis toe gegaan. 11Amasia het baie sterk en dapper gevoel. Hy het sy manne gelei en hulle het na die Sout-vallei gegaan. Hulle het daar 10 000 Seïr-mense oorwin. 12Die Judeërs het nóg 10 000 manne van Seïr lewendig gevang en hulle het die manne na die boonste punt van 'n hoë rots gebring. Die Judeërs het hulle daar afgegooi en die manne het hulle doodgeval.
13Amasia het die manne van Israel laat teruggaan na hulle land sodat hulle nie saam met hom kon gaan om oorlog te maak nie. Hierdie manne het toe party stede in Juda aangeval. Hulle het die stede aangeval van Samaria tot by Bet-Goron. Hulle het 3 000 mense doodgemaak en baie goed gevat.
Amasia dien ander gode
14Amasia het teruggekom nadat hy die Edomiete oorwin het. Hy het gode van die Seïr-mense saamgebring en hy het die gode op plekke neergesit om sy gode te wees. Hy het voor die gode gebuig en hy het wierook vir hulle gebrand. 15Die Here was kwaad vir Amasia en Hy het 'n profeet na hom toe gestuur en vir hom gesê: “Hoekom dien jy 'n ander volk se gode? Daardie gode kon nie hulle volk red toe jy hulle aangeval het nie.”
16Die profeet was besig om te praat, en toe sê Amasia vir hom: “Het ons jou gekies om 'n raadgewer van die koning te wees? Nee! Bly stil! As jy aanhou praat, dan sal ek jou laat doodmaak.”
Die profeet het stilgebly, maar hy het eers gesê: “Ek weet nou dat God besluit het om jou te laat sterf, want jy doen hierdie ding en jy luister nie wanneer ek vir jou wil help en sê wat jy moet doen nie.”
Amasia verloor 'n oorlog teen Israel
(Kyk ook 2 Kon 14:8-13)
17Koning Amasia van Juda het gevra wat sy raadgewers sê, en toe het hy 'n boodskap gestuur vir Joas seun van koning Joahas van Israel. Hy het vir Joas gesê: “Kom ons maak oorlog teen mekaar.”
18Koning Joas van Israel het vir koning Amasia van Juda geantwoord: “Die doringbos op die Libanon-berg laat weet vir die sederboom op die Libanon-berg: ‘Gee jou dogter sodat my seun met haar kan trou.’ En toe kom daar 'n wilde dier van die Libanon-berg verby en hy trap die doringbos plat. 19Jy dink noudat jy die Edomiete oorwin het, kan jy jou verbeel dat jy belangrik is. Bly by jou huis. Hoekom wil jy probleme maak vir jouself? Jy sal sterf, jy en die mense van Juda saam met jou.”
20Maar Amasia het nie geluister nie, want God het dit besluit. God wou hê dat Amasia die oorlog moet verloor omdat Amasia en sy manne die gode van Edom gedien het. 21Koning Joas van Israel en sy manne het gekom, en hy en Amasia het oorlog begin maak by die stad Bet-Semes in die land Juda. 22Israel het gewen teen Juda, en die manne van Juda het gevlug, elkeen na sy huis. 23Koning Joas het vir koning Amasia van Juda, seun van Joas seun van Joahas, by Bet-Semes gevang en hy het hom na Jerusalem gebring. Daar het Joas 'n stuk van Jerusalem se muur afgebreek, die stuk muur was 400 el lank. Dit was tussen die Efraim-poort en die Hoek-poort. 24Joas het al die goud en silwer gevat, en al die ander goed wat hy in die tempel kon kry, die goed wat Obed-Edom moes oppas. Joas het ook die kosbare goed van die paleis gevat en hy het gyselaars saam met hom geneem. Toe het hy teruggegaan na die stad Samaria.
Amasia sterf
(Kyk ook 2 Kon 14:17-21)
25Koning Amasia van Juda, seun van Joas, het nog 15 jaar gelewe nadat koning Joas van Israel seun van Joahas, gesterf het. 26Die ander dinge wat Amasia voorheen en later gedoen het, is geskryf in die dagboek van die Konings van Juda en Israel. 27Nadat Amasia opgehou het om die Here te dien, het mense in Jerusalem besluit om hom dood te maak. Hy het na die stad Lakis gevlug, maar hulle het mense daarnatoe gestuur en hulle het hom daar doodgemaak. 28Hulle het sy liggaam op perde teruggebring en hulle het hom begrawe by sy voorvaders in die Dawidstad.

Tans Gekies:

2 Kronieke 25: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan