2 Konings 25:4-12

2 Konings 25:4-12 ABA

Die soldate van Babel het oor die muur begin kom, en die soldate van Jerusalem het in die nag begin vlug deur die poort tussen die twee mure, op die pad na die koning se tuin. Die Galdeërs was rondom die stad, en koning Sedekia het op die pad na die Jordaan-vallei probeer wegkom. Maar die soldate van die Galdeërs het die koning gevolg en gejaag en hulle het hom gekry op die droë, gelyk grond by Jerigo. Al sy soldate het na al die kante toe gevlug, weg van hom. Die Galdeërs het koning Sedekia gevang en hulle het hom geneem na die koning van Babel toe in die stad Ribla. Daar het die koning van Babel besluit hoe hy vir Sedekia wil straf. Hulle het die seuns van Sedekia doodgemaak, en Sedekia moes kyk terwyl hulle dit doen. Toe het hulle Sedekia se oë uitgesteek en hulle het hom met kettings vasgebind en na Babel gevat. Nebusaradan, die hoof-offisier en amptenaar van die koning van Babel, het na Jerusalem gekom in die vyfde maand, op die sewende dag van die maand, in die 19de jaar nadat Nebukadnesar koning van Babel geword het. Nebusaradan het die tempel afgebrand en ook die paleis en al die huise in Jerusalem, al die groot huise. Die soldate van die Galdeërs wat by die hoof-offisier was, het die mure rondom Jerusalem afgebreek. Die hoof-offisier Nebusaradan het die mense gevang wat nog in die stad was. Hy het ook die mense gevang en weggevat wat self besluit het om na die koning van Babel toe te gaan. Hulle was die mense wat oorgebly het van al die baie mense in die stad. Nebusaradan het net die armste mense van die land daar laat bly om in die wingerde en op die koringlande te werk.