Esra 5

5
Serubbabel en Jesua begin weer om die tempel te bou
1Die profete Haggai en Sagaria seun van Iddo het boodskappe gebring vir die Judeërs in Juda en Jerusalem. Die God van Israel wat oor die Judeërs regeer, het hulle gestuur. 2Serubbabel seun van Sealtiël en Jesua seun van Josadak het toe weer begin om die tempel in Jerusalem te bou. Die profete van God was by hulle en het hulle gehelp. 3Toe dit gebeur, het Tattenai, die goewerneur van Wes-Eufraat, en Setar-Bosnai en die ander amptenare saam met hulle na die Judeërs toe gekom en vir hulle gevra: “Wie het gesê julle moet hierdie tempel bou en sy dak opsit?”
4Hulle het ook gevra: “Wie is die mense wat hierdie tempel bou? Wat is hulle name?”
5Maar God het die leiers van die Judeërs beskerm. Hulle kon aanhou werk totdat Darius gehoor het wat gebeur het en hy besluit het dat hulle dit mag doen.
Die brief van Tattenai
6Tattenai, goewerneur van Wes-Eufraat, Setar-Bosnai en die ander hoë amptenare in Wes-Eufraat het vir koning Darius 'n brief gestuur. 7Hulle het vir hom vertel wat gebeur, hulle het geskryf:
Aan koning Darius: Ons hoop dit gaan baie goed met jou. 8Ons wil hê dat die koning moet weet dat ons na die provinsie Juda gegaan het. Ons het daar 'n groot tempel gesien. Hulle bou die tempel se mure van groot klip en hout. Hulle doen die werk goed en hulle doen dit vinnig. 9Ons het vir hulle leiers gevra: “Wie het gesê julle moet hierdie tempel bou en die muur regmaak?” 10Ons het ook gevra wie die leiers is, sodat ons dit vir jou kan laat weet. 11Hulle het toe vir ons geantwoord: “Ons is dienaars van die God van die hemel en die aarde, en ons bou weer die tempel wat lank gelede hier gestaan het. 'n Groot koning van die volk Israel het voorheen die tempel gebou en klaargemaak. 12Maar ons voorvaders het die God van die hemel kwaad gemaak, en toe het Hy die Galdeër, koning Nebukadnesar van Babel, laat wen teen hulle. Nebukadnesar het hierdie tempel verwoes en hy het die mense gevang en weggevat na die land Babel. 13Maar in die eerste jaar nadat Kores koning van Babel geword het, het hy gesê ons moet hierdie tempel weer bou. 14Koning Kores het ook die goue goed en silwergoed teruggegee wat Nebukadnesar weggevat het uit die tempel in Jerusalem. Nebukadnesar het die goed in sy god se tempel in Babel gesit. Koning Kores het dit weggevat uit daardie tempel in Babel en hy het dit vir Sesbassar gegee. Sesbassar was die man wat hy gekies het om goewerneur van Juda te wees. 15Kores het vir Sesbassar gesê: ‘Neem hierdie goed en gaan sit dit in die tempel in Jerusalem. En jy moet kyk dat mense die tempel weer bou waar dit gestaan het.’ 16Hierdie Sesbassar het toe gekom en hy het die fondamente van die tempel gebou. Van daardie tyd af bou ons die tempel, maar ons is nog nie klaar nie.” 17As die koning wil, dan moet jy nou iemand stuur om te kyk in die stoorkamers van die koning daar in Babel, hy moet kyk of dit waar is dat koning Kores gesê het hulle moet die tempel in Jerusalem weer bou, en dan moet jy vir ons laat weet wat jy besluit het.

Tans Gekies:

Esra 5: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan