Hosea 9

9
Die Here sal hulle straf
1Die mense van Israel
moenie feesvier en juig
soos die ander volke nie,
want hulle was ontrou
aan hulle God.
Hulle het die afgod Baäl gedien
op al die dorsvloere.
2Hulle sal nie koring
en olyf-olie kry nie,
en ook nie wyn nie.
3Hulle sal nie altyd woon
in die land van die Here nie.
Die mense van Efraim
sal teruggaan na Egipte
en hulle sal onrein kos eet
in Assirië.
4Daar sal hulle nie vir die Here
wyn kan offer nie.
Die Here sal nie hou
van hulle offers nie.
Die kos wat hulle eet,
sal hulle onrein maak.
Dit sal wees soos die kos
wat mense eet
wanneer hulle rou
oor iemand wat dood is.
Dit is kos wat onrein is,
en wat hulle nie in die tempel
van die Here mag bring nie.
5Hulle sal nie kan bymekaarkom
om die Fees van die Here
te vier nie.
6Want hulle mense wat nog lewe,
sal in Egipte gaan woon.
Hulle grafte sal
in die stad Memfis wees.
Hulle mooi silwergoed
sal tussen die bossies lê,
en in hulle tente
sal dorings groei.
7Die Here sal hulle straf,
en dit sal gou gebeur.
Die mense van Israel sal dit weet.
God het die profeet gestuur
Julle dink die profeet is dom.
Julle dink hy is mal wanneer die Here
vir hom wys wat sal gebeur.
Maar hy is so
omdat julle so baie sonde doen
en omdat julle almal sy vyande is.
8God het die profeet gestuur,
en die profeet moet die mense
van Efraim oppas.
Maar hulle wil die profeet vang
soos 'n mens 'n voël vang.
Hulle wil hom aanval,
ook in die tempel van sy God.
9Hulle is baie slegte mense,
hulle is so sleg soos die mense
van die stad Gibea, lank gelede.
Die Here sal onthou
wat hulle gedoen het,
Hy sal hulle straf oor hulle sondes.
Dit sal sleg gaan met hulle
10Die Here het gesê:
“Ek was bly
oor die mense van Israel,
so bly soos oor druiwe
wat 'n mens in die woestyn kry,
so bly soos oor die eerste vye
aan 'n jong vyeboom.
Maar hulle voorvaders
het die skande-afgod gaan dien
by die stad Baäl-Peor,
en hulle het net so stink
en sleg geword
soos die afgod.
11“Alles sal verdwyn waarop die mense
van Efraim trots was.
Dit sal wees soos wanneer 'n duif
wegvlieg en nie terugkom nie.
Die mense van Efraim
sal nie meer kinders kry nie.
12En wanneer hulle probeer om die kinders
wat hulle het, groot te maak,
dan sal Ek die kinders doodmaak.
Daar sal niemand oorbly nie.
Dit sal sleg gaan met hulle
wanneer Ek hulle los en weggaan.
13Die mense van Efraim
was vir My soos jong palmbome
in goeie grond,
maar nou moet die mense
van Efraim hulle kinders bring
sodat iemand hulle kan doodmaak.”
14Die profeet Hosea het gebid en gesê:
“Here, wat sal U doen met die mense
van Israel?
Dít is wat U moet doen:
Hulle vroue moenie
meer kinders kry nie.”
15Die Here het gesê:
“Die mense van Israel
het by die stad Gilgal begin
om sonde te doen.
Ek het hulle daardie tyd begin haat
omdat hulle verkeerd gedoen het.
Ek sal hulle nou wegjaag
uit my tempel,
want Ek wil nie meer lief wees
vir hulle nie.
Hulle amptenare wil nie
luister na My nie.
16Die mense van Efraim het geword
soos wingerdstokke
wat siek is
en wat nie druiwe dra nie,
hulle wortels is droog.
Die mense van Efraim
kry nie kinders nie,
en as hulle miskien kinders kry,
dan sal Ek die kinders doodmaak.”
17Die profeet Hosea het gesê:
“My God sê die mense van Efraim
is nie meer sy volk nie,
want hulle het nie
geluister na Hom nie.
Daarom moet hulle nou
rondswerf tussen ander volke.”

Tans Gekies:

Hosea 9: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan