Jesaja 42:1-9

Jesaja 42:1-9 ABA

Die Here sê: “Hier is my dienaar, Ek hou hom vas, Ek het hom gekies en Ek is lief vir hom. Ek het my Gees in hom laat kom. My dienaar sal vir die volke gaan sê wat Ek wil hê hulle moet doen. Hy sal nie vra dat iemand hom moet help nie, hy sal nie hard praat nie, hy sal nie skree in die straat nie. Hy sal nie 'n riet breek wat klaar stukkend is nie, hy sal nie 'n vlam doodblaas wat dof brand nie. Hy sal seker maak dat almal weet wat Ek wil hê hulle moet doen. Hy sal wees soos 'n vlam wat niemand sal doodblaas nie, 'n riet wat niemand sal breek nie, totdat hy vir almal op die aarde gesê het wat Ek wil hê hulle moet doen. Ook die mense wat in die ver lande by die see woon, wag om te hoor wat hy vir hulle sal leer.” God het gepraat. Hy is die Here wat die hemeldak gemaak het en wat dit soos 'n tent styfgetrek het. Hy is die Here wat die aarde gemaak het en alles wat uit die aarde kom. Hy is die Here wat asem en lewe gee aan die mense wat op die aarde is. Hy het gesê: “Ek, die Here, het jou geroep om te doen wat Ek wil hê, en Ek hou jou hand vas en Ek beskerm jou. Jy moet my verbond wees met my volk, jy moet die lig wees vir die ander volke. Jy moet blinde mense weer laat sien en jy moet die mense laat uitkom wat in donker tronke is. Ek is die Here, dit is my Naam. Die mense moet My eer, hulle moet niemand anders eer nie. Hulle moet My prys, hulle moenie die beelde van gode prys nie. Alles het gebeur wat Ek voorheen gesê het, en nou sê Ek wat later nog sal gebeur. Ek sê dit vir julle voordat dit begin gebeur.”