Jesaja 60:1-13

Jesaja 60:1-13 ABA

Jerusalem, jy moet opstaan, jy moet jou lig laat skyn, want jou lig het gekom, die lig van die Here self sal op jou skyn. Ja, kyk, dit is donker oor die aarde, oor al die volke. Maar die Here gee vir jóú lig, sy lig kom na jou toe. Nou sal die volke en die konings lewe in jou lig, die lig van jou nuwe dag. Jerusalem, kyk rondom jou, jy sal sien jou seuns en jou dogters kom van ver. Mense dra hulle, en hulle kom almal bymekaar, hulle kom na jou toe. Wanneer jy dit sien, dan sal jy baie bly wees. Jou hart sal vinnig klop en jy sal bly word, want al die duur en mooi dinge van die volke sal joune word. Dit sal na jou toe kom oor die see. Daar sal baie kamele na jou toe kom, kamele van die lande Midian en Efa. Hulle sal almal van die land Skeba kom en hulle sal goud en wierook bring. Die mense sal die Here prys. “Al die skape en bokke van die land Kedar sal joune word, die ramme van die land Nebajot sal aan jou behoort. Ek wil graag hê dat jy hulle op my altaar moet offer, en Ek sal trots wees op my pragtige tempel.” Wie is dit wat daar nader kom soos 'n wolk? Wie kom soos duiwe wat na hulle neste vlieg? Jerusalem, dit is jou seuns wat van ver kom, hulle kom van die ver lande langs die see. Hulle kom met skepe, en hulle bring goud en silwer saam. Hulle kom om jou God die Here te eer, die Heilige God van Israel, en Hy sal vir jou ook eer gee. “Mense van ander lande sal jou mure bou, en hulle konings sal vir jou werk, want Ek het jou gestraf toe Ek kwaad was, maar Ek wil graag weer goed wees vir jou. Jou poorte sal elke dag en nag oop wees sodat die duur en mooi dinge van die volke na jou toe kan kom, en sodat die volke hulle konings na jou toe kan lei. Dit sal sleg gaan met die volke wat jou nie dien nie, die vyande sal hulle lande verwoes, en hulle stede sal hope klippe word. Die hout van die beste bome op Libanon-berg sal na jou toe kom, sipreshout, plataanhout en dennehout, en dit sal my tempel mooi maak, Ek sal die plek waar Ek woon, pragtig maak.