Jeremia 18

18
Ek kan met julle doen soos die pottebakker met die klei doen
1Ek, Jeremia, het gehoor die Here sê vir my: 2“Jy moet na die pottebakker se huis gaan. Ek sal daar met jou praat.”
3Ek het na die pottebakker se huis gegaan, en hy was toe besig om iets te maak. 4Maar die ding wat hy van klei gemaak het, was nie reg nie, en toe maak hy van die klei iets anders soos hy dit wou hê. 5Die Here het toe vir my gesê: “Jy moet vir die mense sê die Here sê: 6Israeliete, Ek kan met julle doen soos die pottebakker met die klei doen. 7Ek kan nou sê Ek wil 'n volk of 'n land uitruk en omgooi en verwoes, 8en wanneer daardie volk ophou om die slegte dinge te doen waaroor Ek hulle wil straf, dan sal Ek besluit Ek straf hulle nie. 9Of Ek kan nou sê Ek wil 'n volk of 'n land bou en plant, 10maar wanneer daardie volk ongehoorsaam is en dinge doen waarvan Ek nie hou nie, dan sal Ek besluit Ek sal nie aan hulle die goeie dinge doen wat Ek belowe het nie. 11Daarom moet jy vir die mense van Juda en vir die mense wat in Jerusalem woon, sê die Here sê: Ek wil dit sleg laat gaan met julle, Ek het dit klaar besluit. Julle moet ophou om slegte dinge te doen, julle moet reg lewe en julle moet goeie dinge doen. 12Jeremia, Ek weet die mense sal sê dit maak nie saak nie, hulle wil doen wat hulle wil. Hulle is hardkoppig, elkeen wil doen wat sy slegte hart vir hom sê. 13Daarom sê Ek:
“Gaan vra vir ander volke
of hulle al so iets gehoor het.
Die Israeliete het 'n baie lelike ding gedoen.
14Op die Libanon-berg is daar altyd sneeu
en die riviertjies koue water wat van ver kom,
hou aan om te vloei.
15Maar my volk het My vergeet
en hulle het wierook-offers gebring
vir gode wat nie regtig gode is nie.
Die volk het nie aangehou loop
op die goeie ou paaie nie,
hulle het begin loop op paaie
wat nie paaie is nie,
en hulle het oor die klippe begin val.
16Dit is hulle skuld dat hulle land sal verander.
Mense sal bang word wanneer hulle sien
daar woon nie meer mense in die land nie,
en hulle sal fluit.
Dit sal altyd so wees.
Almal wat deur die land loop,
sal bang word en hulle sal hulle kop skud.
17Ek sal die mense van Juda
na al die kante toe jaag
wanneer hulle vyande hulle aanval.
Ek sal hulle jaag
soos die oostewind die kaf wegwaai.
En wanneer hulle daardie dag bang word
en wil vra dat Ek hulle moet help,
dan sal Ek wegdraai,
Ek sal nie na hulle kyk nie.”
18Die mense van Juda het gesê: “Ons moet 'n plan maak teen Jeremia. Ons moet slegte dinge oor hom vir die mense vertel, ons moenie bekommerd wees oor wat hy sê nie. Daar sal altyd priesters wees om vir ons te leer, en wyse mense om vir ons te vertel wat ons moet doen, en profete wat vir ons sê wat die Here sê.”
19Daarom vra ek, Jeremia:
“Here, U moet my beskerm,
U moet hoor wat my vyande sê.
Ek het goeie dinge gedoen aan hulle,
maar hulle wil 'n slegte ding doen aan my,
soos wanneer iemand 'n gat grawe om 'n dier te vang.
20U moet onthou dat ek mooi vir U gevra het
om hulle nie te straf nie
en om nie meer kwaad te wees vir hulle nie.
21Maar nou moet U hulle straf
omdat hulle so doen aan my.
U moet hulle kinders laat doodgaan van honger,
en U moet vyande laat kom
om oorlog te maak teen hulle,
U moet hulle vroue se kinders en hulle mans
laat sterf.
U moet hulle mans laat sterf van siekte,
en hulle jongmanne moet sterf in oorlog.
22Hulle wou my vang
soos 'n dier in 'n vang-gat of 'n vangstrik.
Daarom bid ek dat hulle moet swaarkry,
hulle moet skree dat iemand hulle moet help
wanneer U hulle vyande skielik soos rowers laat kom.
23Here, U weet alles wat hulle wil doen
om my dood te maak,
U moenie goed word vir hulle nie,
U moenie hulle sonde vergewe nie,
U moet kwaad bly vir hulle, U moet hulle laat sterf.”

Tans Gekies:

Jeremia 18: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan