Jeremia 47

47
Die Here praat oor die Filistyne
1Die profeet Jeremia het gehoor die Here praat met hom oor die Filistyne. Dit was voordat die farao die stad Gasa oorwin het.
2Die Here het gesê:
“Die vyande kom uit die noorde,
hulle kom soos baie water,
hulle vloei soos 'n groot rivier,
hulle vloei oor die land en oor
alles in die land,
oor die stede en oor almal
wat in die stede woon.
Die mense skree en vra
iemand moet hulle help.
Almal wat in die land woon, huil,
3want hulle hoor hoe die pote
van die vyande se perde stamp,
hulle hoor hoe hulle oorlogkarre se wiele raas.
Pa's vlug en draai nie om nie,
hulle neem nie hulle kinders saam nie,
hulle is bang, hulle hande hang pap.
4Die dag het gekom,
die Here verwoes al die Filistyne,
Hy maak almal dood
wat vir Tirus en Sidon kan help.
Ja, die Here maak al die Filistyne dood,
al die mense wat van die eiland Kaftor
kom en wat nog lewe.
5Die mense van Gasa het hulle koppe kaal geskeer.
Die vyande het die mense van Askelon
stilgemaak.
Mense wat oorgebly het op die kus-vlakte,
hoe lank sal julle nog rou en julleself stukkend sny?
6Swaard van die Here, dit gaan sleg
terwyl jy aanhou om mense dood te maak,
jy moet teruggaan in jou sak,
jy moet rus en stil wees.
7Maar hoe kan die swaard van die Here rus?
Want dit is die Here wat die swaard gestuur het
teen Askelon en die land by die see.”

Tans Gekies:

Jeremia 47: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan