Jeremia 50

50
Die Here praat oor Babel
1Die Here het gepraat oor Babel, oor Galdeër-land, en Hy het die profeet Jeremia gestuur om dit te sê:
2“Julle moet vir al die volke vertel,
julle moet 'n vlag in die lug ophou,
julle moet praat, julle moenie stilbly nie,
julle moet sê:
Vyande het die land Babel oorwin.
Bel kan nie help nie, Marduk is bang,
die afgode kan nie help nie, hulle is bang,
3want 'n volk het uit die noorde gekom
en hulle het Babel oorwin.
Hulle het die land leeggemaak,
daar is nie mense nie,
niemand woon nou daar nie,
die mense en diere het gevlug.”
4Die Here sê: “Wanneer dit gebeur, in daardie tyd, dan sal die Israeliete kom, en die Judeërs sal saam met hulle kom. Hulle sal loop en huil en hulle sal hulle God die Here soek. 5Hulle sal vra waar is die pad na Sion en hulle sal na Sion gaan, hulle sal kom om by die Here te wees. Ek sal my verbond met hulle nooit breek nie, dit sal vir altyd wees, en hulle sal dit nie vergeet nie. 6My volk was soos skape wat weggeraak het, hulle herders het hulle laat wegraak en laat verdwaal op die berge. Hulle het van die een berg na die ander berg geloop en hulle het vergeet waar hulle lêplek is. 7Almal wat by die skape gekom het, het die skape geslag en geëet, en hulle vyande het gesê: ‘Die Here sal ons nie straf nie, want die Israeliete het sonde gedoen teen die Here. Die Here wou vir hulle soos 'n weiveld wees waar hulle kon rus. Hulle voorvaders het geglo dat Hy die Here is wat hulle sal help.’
8“Julle moet vlug uit Babel,
julle moet uitgaan uit Galdeër-land,
julle moet wees soos die leierbokke
voor die skape en bokke.
9Want kyk, Ek maak 'n groep groot volke
wakker uit die land in die noorde
en Ek bring hulle om Babel aan te val.
Hulle kom staan reg om oorlog te maak,
hulle begin by die noordekant
en hulle oorwin die stad.
Hulle is manne wat weet hoe om
oorlog te maak,
al hulle pyle skiet raak.
10Die vyande sal die Galdeërs vang en wegvat,
hulle sal aanhou totdat hulle genoeg het.”
Dit sê die Here. 11Die Here sê:
“Galdeërs, julle wat nou die goed wegdra uit my stad,
julle is nou bly en julle juig,
julle spring rond soos kalwers op 'n dorsvloer,
julle raas, julle runnik soos perde-hingste.
12Maar dit sal sleg gaan met julle,
julle vyande sal julle verneder,
julle sal die volk word wat die minste belangrik is,
julle land sal 'n droë woestyn word.
13Die Here is kwaad,
daar sal niemand in Babel woon nie,
dit sal 'n leë stad word.
Elkeen wat by Babel verbygaan,
sal bang word en fluit
oor alles wat met die stad gebeur het.
14Julle wat skiet met 'n pyl en boog,
julle moet Babel aanval van al die kante.
Julle moet skiet, julle moet al julle pyle gebruik,
want Babel het sonde gedoen teen die Here.
15Julle moet skree wanneer julle
die stad aanval van al die kante.
Die mense van Babel hou op om te veg,
die torings van Babel val om,
die vyande breek die stad se mure af,
want die Here straf die mense van die stad.
Julle moet met die mense van Babel dieselfde doen
wat hulle met julle gedoen het.
16Julle moet die mense wat koring saai,
uit Babel laat verdwyn,
en ook die mense wat koring afsny.
Julle moet hulle doodmaak met 'n swaard
wat nie ophou om dood te maak nie.
Al die mense van ander lande
sal na hulle eie volke en lande vlug.
17“ Israel is soos skape wat weggeraak het, leeus het hulle weggejaag na al die kante toe. Die koning van Assirië het eers die Israeliete opgevreet, en toe het koning Nebukadnesar van Babel hulle bene stukkend gekou.”
18Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: “Daarom sal Ek die koning van Babel en sy land straf soos Ek die koning van Assirië gestraf het. 19En Ek sal Israel laat terugkom na hulle land. Hulle is my skape en hulle sal wei op Karmel-berg en Basan-berg, hulle sal genoeg kry om te eet op die Efraim-berge en op die Gilead-berge.”
20Die Here sê: “Daardie tyd sal mense vra wat Israel verkeerd gedoen het en watter sonde Juda gedoen het. Maar hulle sal nie skuldig wees nie, want Ek sal al die sondes vergewe van hulle mense wat nog lewe.”
21Die Here sê:
“Jy moet na die land Meratajim gaan,
jy moet die mense van die land Pekod
gaan aanval,
jy moet hulle stede verwoes,
jy moet hulle almal doodmaak.
Jy moet alles doen wat Ek vir jou sê.
22Daar kom oorlog in Galdeër-land,
die vyande sal alles verwoes.
23Babel was die hamer
wat die aarde geslaan het,
maar die hamer is nou stukkend.
Die ander volke sal bang word
wanneer hulle sien wat gebeur
met Babel.
24Babel, jy het 'n vangstrik gemaak,
en dit het jóú gevang,
maar jy het dit nie geweet nie.
Jy sit vas, want jy wou oorlog maak teen die Here.
25Die Here het sy wapenkamer oopgemaak
en Hy het sy wapens uitgehaal,
want Hy is kwaad.
Die Here wat oor alles regeer,
wil iets doen in Galdeër-land.
26Julle moet van oral na Babel kom,
julle moet hulle koringstore oopmaak,
julle moet hulle soos hope koring opmekaar gooi,
julle moet hulle almal doodmaak,
nie een moet aanhou lewe nie.
27Julle moet al hulle leiers doodmaak.
Dit gaan nou sleg met hulle,
want die dag het gekom wanneer Ek
hulle sal straf.
28Party mense het gevlug,
en hulle het vry weggekom uit Babel.
Hulle het in Sion kom vertel
hoe ons God die Here vir Babel
gestraf het oor wat hulle
met sy tempel gedoen het.
29Julle moet baie soldate roep om na Babel te kom,
almal wat met 'n pyl en boog skiet.
Julle moet julle tente opslaan rondom die stad,
niemand moet vry wegkom nie.
Julle moet die mense van die stad straf
oor alles wat hulle gedoen het,
julle moet aan hulle doen wat hulle
aan julle gedoen het,
want hulle was opstandig teen die Here,
teen die Heilige God van Israel.
30Daarom sal hulle jongmanne
op die oop stukke grond bly lê,
die vyande sal al hulle soldate doodmaak.”
Dit sê die Here. 31Die Here praat, die Here wat oor alles regeer, sê:
“Luister, opstandige mense,
Ek is teen julle,
want die dag het gekom
wanneer Ek julle sal straf.
32Die opstandige mense sal val,
en niemand sal hulle optel nie,
Ek sal hulle stede aan die brand steek,
en alles sal verbrand.”
33Die Here wat oor alles regeer, sê:
“Vyande het die Israeliete verdruk,
hulle het ook die Judeërs verdruk.
Vyande het hulle gevang en vasgehou,
en wou hulle nie laat gaan nie.
34Maar die God wat hulle vrymaak, is sterk,
sy Naam is die Here wat oor alles regeer.
Hy sal hulle help om teen hulle vyande te veg
en Hy sal vrede bring in die land Israel,
maar Hy sal nie vrede bring vir die mense
van Babel nie.”
35Die Here sê:
“Ek stuur mense met swaarde
teen die Galdeërs,
teen die mense van Babel,
teen hulle amptenare
en teen hulle wyse mense.
36Ek stuur mense met swaarde
teen hulle waarsêers,
almal sal weet hulle is dwase.
Ek stuur mense met swaarde teen hulle soldate,
hulle almal sal skrik.
37Ek stuur mense met swaarde teen hulle perde
en teen hulle oorlogkarre in Babel
en teen al die soldate wat hulle gehuur het,
hulle almal sal soos vroue word.
Ek stuur mense met swaarde
teen hulle stoorkamers,
die vyande sal alles wegvat.
38Ek stuur droogte,
sodat daar nie water sal wees nie.
Ek doen dit, want Babel is 'n land vol beelde,
die mense is baie lief vir afgodsbeelde.
39Daarom sal hiënas
saam met woestyn-diere in Babel woon,
en volstruise sal daar rondloop.
Daar sal nooit weer mense woon nie,
daar sal nooit weer iemand bly nie.”
40Die Here sê:
“Dit sal wees soos toe Ek Sodom en Gomorra
en die ander stede daar naby verwoes het.
Daar sal niemand woon nie,
nie een mens sal daar wil bly nie.
41Kyk, daar kom 'n volk uit die noorde,
'n groot volk,
daar kom baie konings van oral op die aarde.
42Elkeen het 'n pyl en boog en 'n spies,
hulle is wreed,
hulle is vir niemand jammer nie.
Wanneer hulle skree,
dan raas dit soos die see.
Hulle ry op perde,
en hulle is gereed om oorlog te maak
teen julle, mense van Babel.
43Wanneer die koning van Babel
hoor dat sy vyande kom,
dan word sy hande pap,
hy word bang, hy kry seer
soos 'n vrou wat 'n baba kry.
44“ Dit moet julle weet,
soos die diere in 'n weiveld langs 'n waterstroom vlug
wanneer 'n leeu uit die bosse
by die Jordaan-rivier kom,
so sal Ek die mense van Babel skielik laat vlug uit hulle land
en Ek sal iemand kies om oor die land te regeer.
Want wie is soos Ek, en wie kan doen wat Ek doen?
Watter koning kan téén My wees en aanhou lewe?
45Daarom moet julle hoor wat die Here
besluit het oor Babel,
julle moet hoor wat Hy wil doen
met die mense van Galdeër-land.
Die vyande sal hulle kinders wegsleep,
dit is seker,
hulle sal al die mense wegvat
uit die woonplek van die Galdeërs,
dit is seker.
46Die aarde sal skud wanneer Babel val,
die volke sal hoor hoe skree die mense van Babel.”

Tans Gekies:

Jeremia 50: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan