Johannes 6:1-21

Johannes 6:1-21 ABA

Jesus het na die ander kant van die See van Galilea gegaan. Die mense het dit ook die See van Tiberias genoem. Baie mense het saam met Jesus gegaan, want hulle het die wondertekens gesien toe Hy siek mense gesond gemaak het. Jesus het teen die berg opgegaan en Hy en sy dissipels het daar gaan sit. Die Joodse Paasfees was naby. Jesus het gesien baie mense kom na Hom toe. Toe sê Hy vir Filippus: “Waar gaan ons brood koop vir al hierdie mense om te eet?” Jesus het dit gesê omdat Hy wou kyk wat Filippus gaan doen. Jesus het klaar geweet wat Hy gaan doen. Filippus het vir Jesus gesê: “As ons 200 silwer geldstukke het, sal dit te min wees om vir elkeen van hierdie mense 'n stukkie brood te koop.” Simon Petrus se broer, Andreas, was een van Jesus se dissipels. Hy het vir Jesus gesê: “Hier is 'n seuntjie wat vyf garsbrode en twee visse het, maar dit is te min vir so baie mense.” Jesus het vir die dissipels gesê: “Julle moet vir die mense sê hulle moet gaan sit.” Daar was genoeg gras waarop die mense kon sit. Daar was baie mense. Die mans was omtrent 5 000. Toe het Jesus die brood geneem. Hy het gebid en vir God dankie gesê vir die brood. Jesus het die brood gegee vir die mense wat daar sit. Hy het ook vir hulle van die vis gegee. Daar was baie kos, die mense kon genoeg eet. Toe die mense genoeg geëet het, sê Jesus vir sy dissipels: “Julle moet al die stukkies kos optel wat oorgebly het. Ons moet dit nie mors nie.” Die dissipels het die stukkies bymekaargemaak. Daar het twaalf mandjies vol oorgebly nadat die mense van die vyf garsbrode geëet het. Die mense het gesien dat Jesus 'n wonderteken gedoen het. Hulle sê toe: “Nou weet ons Hy is die Profeet wat na die wêreld toe kom.” Die mense wou Jesus gryp en Hom koning maak. Maar toe Jesus dit sien, het Hy weer weggegaan na die berg. Hy het alleen gegaan. Dit het aand geword, en Jesus se dissipels het na die see gegaan. Hulle het in 'n boot geklim en hulle het probeer om oor die see na die stad Kapernaum te gaan. Later was dit donker en Jesus het nog nie na hulle toe gekom nie. Die branders op die see was wild, want daar het 'n sterk wind gewaai. Toe die dissipels omtrent 25 of 30 stadioi geroei het, sien hulle vir Jesus. Hy het op die see geloop en Hy het naby die boot gekom. Die dissipels het bang geword, maar Jesus het vir hulle gesê: “Dit is Ek! Julle moenie bang wees nie.” Toe wou die dissipels hê Jesus moet in die boot klim. Dadelik daarna het hulle met die boot by die plek aangekom waarnatoe hulle wou gaan.

Video vir Johannes 6:1-21