Matteus 6:19-24

Matteus 6:19-24 ABA

“Dit moenie vir julle belangrik wees om mooi en duur goed bymekaar te maak hier op die aarde nie. Motte vreet dit en dit roes, diewe breek in by huise en steel dit. Dit is beter om vir julle goed bymekaar te maak in die hemel en om daar ryk te wees by God. Daar kan motte dit nie vreet nie en dit kan nie roes nie, en diewe kan nie daar inbreek en dit steel nie. Die dinge wat in die hemel by God is, moet vir jou die belangrikste wees. Dan sal jy net dink aan God wat in die hemel is.” “Jou oog wys hoe jy is. As jou oog reg kyk en jy sien wanneer mense swaarkry en jy help hulle, dan is jy vol lig. Maar as jou oog verkeerd kyk en jy sien wanneer mense swaarkry maar jy help hulle nie, dan is daar nie lig in jou nie. As daar nie lig in jou is nie, dan is dit baie donker rondom jou.” “'n Mens kan nie vir twee persone werk nie, want hy sal niks hou van die een persoon nie en hy sal baie hou van die ander persoon, óf hy sal hard werk vir die een persoon en hy sal niks vir die ander persoon wil doen nie. Julle kan nie vir God dien en óók dink geld en baie ander dinge is so belangrik soos Hy nie.