Markus 1:14-28

Markus 1:14-28 ABA

Koning Herodes het vir Johannes laat vang en hy het Johannes in die tronk toegesluit. Daarna het Jesus na Galilea gekom en Hy het vir die mense God se goeie boodskap gebring. Jesus het gesê: “God het besluit dit is nou die regte tyd. God wat in die hemel is, is Koning oor almal, en van nou af sal almal dit weet. Julle moet begin lewe soos God wil hê en julle moet die goeie boodskap glo.” Jesus het langs die See van Galilea geloop. Hy het gesien Simon en sy broer Andreas gooi hulle visnette in die see, want hulle was vissermanne. Jesus sê toe vir hulle: “Kom hier, kom saam met My, Ek sal julle lewens verander: Julle sal nog vissermanne wees, maar julle sal nie meer visse vang nie, julle sal mense bymekaarmaak vir God.” Simon en Andreas het dadelik hulle visnette gelos en hulle het saam met Jesus gegaan. Toe Jesus 'n bietjie verder geloop het, sien Hy vir Jakobus en sy broer Johannes. Hulle was die seuns van Sebedeus. Hulle was in hulle boot besig om die visnette reg te maak. Jesus het hulle ook dadelik geroep om saam te kom. Hulle het hulle pa, Sebedeus, en die vissermanne wat vir hom gewerk het, in die boot gelos, en hulle het saam met Jesus gegaan. Jesus en sy dissipels het in die stad Kapernaum gekom. Op die Sabbatdag daarna het Jesus reguit na die sinagoge gegaan en Hy het daar begin om vir die mense te leer. Die mense was baie verbaas oor hoe Jesus vir hulle geleer het, want hulle het besef dat dit van God kom. Jesus het vir hulle nie geleer soos hulle skrifgeleerdes dit gedoen het nie. Skielik kom daar toe in hulle sinagoge 'n man, daar was 'n onrein gees in hom, en die gees het geskree: “Jesus van Nasaret, wat wil U met ons doen? Het U gekom om ons dood te maak? Ek weet wie U is: U is die Heilige wat van God kom.” Jesus het met die onrein gees geraas en gesê: “Bly stil en gaan uit die man uit!” Die onrein gees het die man op die grond laat val en die man het geruk en geskop. Die gees het hard geskree en hy het toe uit die man uitgegaan. Almal was baie verbaas en hulle het aangehou praat daaroor. Hulle het vir mekaar gesê: “Wat het gebeur? Hierdie man leer vir die mense iets wat anders is. Dit kom van God. Hy sê ook vir die onrein geeste wat hulle moet doen, en hulle is gehoorsaam aan hom.” Die mense het oral in die hele provinsie Galilea gepraat oor wat Jesus gedoen het.