Markus 12:1-27
Markus 12:1-27 ABA
Jesus het begin om met die mense te praat en Hy het vir hulle gelykenisse vertel. Hy het gesê: “'n Man het 'n klomp wingerdstokke op sy grond geplant. Hy het 'n muur rondom die wingerd gebou en 'n parskuip gereedgemaak. En hy het 'n hoë toring gebou waarop iemand kon staan om die wingerd op te pas. Daarna het hy die wingerd verhuur aan ander mense. Toe het hy weggegaan. Toe dit tyd word om die druiwe te pluk, het hy 'n slaaf na die mense toe gestuur om die druiwe te gaan haal wat hy moes kry. Die mense het sy slaaf gegryp, hulle het hom geslaan en hom weggejaag. Hulle het niks vir hom gegee nie. Die eienaar van die wingerd het 'n ander slaaf na hulle toe gestuur. Die mense het hom op sy kop geslaan en baie slegte dinge gedoen aan hom. Toe stuur die eienaar van die wingerd 'n ander slaaf, en die mense het hom doodgemaak. Die eienaar het nog baie ander slawe gestuur. Die mense het party van die slawe geslaan en hulle het party slawe doodgemaak. “Die eienaar het toe nog net een gehad wat hy kon stuur. Dit was sy seun. Hy was baie lief vir die seun. Die eienaar het toe hierdie seun na die mense toe gestuur, dit was die laaste persoon wat hy gestuur het. Hy het gedink hulle sal sy seun respekteer. Die mense het vir mekaar gesê: ‘Hierdie seun sal eendag al die eienaar se goed kry. Kom ons maak hom dood, dan kan ons alles kry.’ Hulle het die seun gegryp, hulle het hom doodgemaak en hom uit die wingerd uitgegooi. Wat dink julle? Wat sal die eienaar van die wingerd doen? Hy sal kom en hy sal daardie mense doodmaak en die wingerd vir ander mense gee. Het julle hierdie woorde in die Ou Testament gelees? “ Die klip wat die bouers nie wou gebruik nie, daardie klip het die belangrikste klip in die hele gebou geword. Dit is die Here se werk, en dit is vir ons wonderlik.” Die leiers van die Jode het toe probeer om Jesus te laat vang en toe te sluit. Hulle het geweet Hy het die gelykenis vertel om te wys hulle is soos daardie slegte mense. Maar die leiers van die Jode was bang vir die ander mense en daarom het hulle vir Jesus gelos en hulle het weggegaan van Hom. Die Fariseërs en Herodiane het 'n paar mense na Jesus toe gestuur. Hulle wou hê Jesus moet iets sê wat verkeerd is, hulle wou hê Hy moet probleme kry. Hulle kom toe na Jesus toe en sê vir Hom: “Meneer, ons weet jy praat altyd die waarheid. Jy is nie bang vir wat die mense sê van jou nie. Jy kyk nie wie mense is nie, jy doen dieselfde aan almal. Jy leer vir die mense wat God wil hê hulle moet doen, en wat jy vir hulle leer, is die waarheid. Maar sê vir ons: Is dit reg om aan die keiser belasting te betaal of nie? Moet ons die belasting betaal of moet ons dit nie betaal nie?” Jesus het geweet hulle is skynheilig en Hy het vir hulle gevra: “Hoekom wil julle hê Ek moet iets sê wat vir My probleme kan gee? Bring vir My 'n silwer geldstuk sodat Ek dit kan sien.” Hulle bring toe vir Jesus 'n silwer geldstuk en Hy vra vir hulle: “Wie se kop en wie se naam is op hierdie geld?” Hulle het vir Hom gesê: “Dit is die keiser se kop en sy naam.” Jesus sê toe vir hulle: “Julle moet aan die keiser betaal wat aan die keiser behoort, maar julle moet ook aan God betaal wat aan God behoort.” Hulle was baie verbaas oor wat Jesus geantwoord het. 'n Paar Sadduseërs het na Jesus toe gekom. Die Sadduseërs het nie geglo dat die mense wat gesterf het, weer sal lewe nie. Hulle het vir Jesus gesê: “Meneer, Moses het in sy wette geskryf wat ons moet doen. Hy het gesê: ‘ Wanneer 'n man sterf en sy vrou lewe nog, en hulle het nie kinders nie, dan moet sy broer met die weduwee trou. Wanneer die vrou dan kinders kry, dan sal dit sy broer wat dood is, se nageslag wees.’ “Daar was sewe broers. Die oudste broer het getrou. Hy het gesterf, maar hy het nie kinders gehad nie. Die tweede broer het met die oudste broer se weduwee getrou, maar hy het ook gesterf en hulle het ook nie kinders gehad nie. Dieselfde het gebeur met die derde broer. Die sewe broers het almal met die vrou getrou, maar hulle het nie kinders gehad nie. Later het die vrou ook gesterf. Nou vra ons: Wie se vrou sal sy wees wanneer almal wat dood is, weer lewe? Want die sewe broers was almal met haar getroud.” Jesus het vir hulle gesê: “Julle is heeltemal verkeerd. Dit is omdat julle nie die Ou Testament en die krag van God ken nie. Wanneer die mense weer lewe, dan sal hulle nie getroud wees nie, en hulle sal nie trou nie. Hulle sal dan wees soos die engele in die hemel. Julle vra oor mense wat gesterf het, wat weer sal lewe. Maar het julle nie in die boeke van Moses gelees nie? Moses het geskryf oor die bos wat gebrand het, en daar het God vir Moses gesê: ‘ Ek is die God van Abraham en die God van Isak en die God van Jakob.’ God is nie die God van dooie mense nie. Hy is die God van mense wat lewe. Julle is heeltemal verkeerd!”

