Obadja 1:8-21
Obadja 1:8-21 ABA
Die Here het ook gesê: “Die mense in die land Edom, in die Esau-berge, dink hulle is baie slim, maar daardie dag sal Ek hulle doodmaak. Mense van die stad Teman, julle soldate sal te bang wees om te veg. Die vyande sal almal op die Esau-berge doodmaak. Julle het mense vermoor, julle was wreed met die nageslag van Jakob, julle voorvader se broer. Daarom sal dit met julle ook sleg gaan. Julle vyande sal julle doodmaak.” “Mense uit 'n ander land het oorlog kom maak teen Jerusalem. Hulle het al die stad se soldate weggevat en hulle het lootjies getrek oor die mense en die goed in die stad. Hulle wou kyk wat elkeen moet kry. Toe het julle gestaan en kyk. Julle was saam met die vyande. Die mense van Jerusalem was familie van julle. Julle het verkeerd gedoen toe julle gestaan en kyk het hoe sleg dit met hulle gaan. Julle was bly toe die vyande die mense van Juda doodgemaak het. Julle het gestaan en lag toe hulle so swaar gekry het. Julle het in my volk se stad ingegaan toe die vyande hulle oorwin het. Julle het gestaan en kyk toe die vyande hulle oorwin het en julle het hulle goed vir julleself gevat. Julle het langs die pad gestaan en wag om die mense van Juda dood te maak toe hulle gevlug het. Julle het die mense wat nog gelewe het, vir die vyande gegee, daardie dag toe dit so sleg met hulle gegaan het. Julle het verkeerd gedoen, julle moes nie dit alles gedoen het nie. Die dag wanneer die Here al die ander volke sal straf, is nou naby. Dan sal ander mense met julle doen wat julle met die mense van Juda gedoen het. Julle Edomiete sal voel hoe dit is wat julle gedoen het.” “Die mense van Juda moes die beker van swaarkry drink op my gewyde berg. So sal die ander volke dit ook moet aanhou drink. Hulle sal drink en drink en hulle sal verdwyn. Maar op Sionsberg sal dit weer goed gaan. Dit sal weer 'n gewyde plek wees. Die nageslag van Jakob sal hulle eie land terugvat, die land wat aan hulle behoort het. Die nageslag van Jakob sal wees soos 'n vuur, die nageslag van Josef sal wees soos vuurvlamme, en julle, die nageslag van Esau, sal wees soos kaf wat brand. Daar sal niks oorbly nie. Die mense van Juda sal die Suid-land, die Esau-berge, vir hulleself vat, en die Laeveld waar die Filistyne woon, en ook die land waar die Efraimiete gewoon het en waar die stad Samaria was. Die mense van die land Benjamin sal die land Gilead vir hulleself vat. Die vyande het party van die Israeliete gevang en na ander lande gevat. Israeliete sal nou die land vat waar die Kanaäniete woon, tot by die stad Sarfat. Die vyande het party mense van Jerusalem gevang en na die stad Sefarad gevat. Daardie mense sal nou die stede in die Suid-land vir hulleself vat. Die mense wat vir Sionsberg vrygemaak het, sal gaan om oor die Esau-berge te regeer, en die Here self sal die Koning wees.”


