Ek, Paulus, is nou in die tronk omdat ek aan Christus Jesus behoort. Ek en ons vriend Timoteus skryf hierdie brief vir jou, Filemon. Jy werk saam met ons vir God, en ons is lief vir jou. Ons skryf ook vir Affia. Sy glo saam met ons in Christus. Ons skryf ook vir Argippus wat baie hard saam met ons gewerk het. Ons skryf ook vir die gemeente wat in jou huis bymekaarkom. Ons bid dat God ons Vader en die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle en dat Hy vir julle vrede sal gee.
Ek sê vir my God elke maal dankie wanneer ek bid en aan jou dink, want ons het gehoor dat jy lief is vir al die mense wat aan God behoort en dat jy in die Here Jesus glo. Ek bid dat mense wat nie glo nie, ook die goeie dinge sal leer ken wat Christus vir ons gegee het, vir ons wat aan Christus behoort. Dan sal hulle ook in Christus glo, soos jy. Liewe vriend, jou liefde vir mense het my baie bly gemaak en het my gehelp om nie moedeloos te word nie, want jy het die mense wat aan God behoort, weer bemoedig.
Daarom is ek nie bang om vir jou te sê wat Christus wil hê jy moet doen nie. Maar jy glo ook in Christus, en ek is lief vir jou. Daarom wil ek vir jou mooi vra. Ek, Paulus, vra dit, ek wat 'n ou man is en wat in die tronk is omdat ek aan Christus Jesus behoort. Ek vra vir jou mooi om vir Onesimus te help. Hy is soos my eie kind, want terwyl ek in die tronk was, het ek vir hom soos 'n pa geword toe ek vir hom die goeie boodskap van Christus Jesus gebring het. Voorheen het Onesimus nie vir jou gehelp nie, maar nou kan hy vir jou en vir my help. Ek het hom na jou toe gestuur, hy is vir my baie kosbaar. Ek wou hom by my hou sodat hy vir my kon help. Jy kan nie vir my help nie, want ek is in die tronk omdat ek vir mense die goeie boodskap gebring het. Maar ek wou niks doen nie, ek wou weet dat jy ook dink dit is reg. Dan kon jy 'n goeie ding doen, nie omdat iemand gesê het jy moet dit doen nie, maar omdat jy self lus was om dit te doen.
Want miskien is dit hoekom Onesimus 'n kort tyd weg was van jou. Hy was weg sodat jy hom vir altyd kan terugkry. En nou kry jy hom terug, en hy is nie meer 'n slaaf nie, hy is nou iemand wat meer is as 'n slaaf. Ja, hy is 'n vriend, ek is baie lief vir hom. Maar jy is baie meer lief vir hom, want hy is nog jou slaaf en hy behoort nou ook aan die Here. Wanneer jy aan my gedink het, dan het jy altyd geweet dat ek saam met jou vir die Here werk. Daarom moet jy vir Onesimus aanvaar soos jy vir my aanvaar het. Maar as hy iets verkeerd gedoen het teen jou of as hy iets vir jou skuld, dan moet jy dit vir my sê. Dan skuld ek dit vir jou. Ek, Paulus, skryf nou met my eie hand: Ek belowe dat ek alles sal terugbetaal wat jy verloor het. Maar jy moet onthou dat jy vir my ook iets skuld, jy is 'n gelowige omdat ek die goeie boodskap vir jou gebring het. Ja, my vriend, jy moet dit asseblief vir my doen omdat jy ook aan die Here behoort, jy moet my bly maak omdat jy ook aan Christus behoort.
Ek skryf vir jou omdat ek seker is dat jy sal doen wat ek vra. Ek weet dat jy meer sal doen as wat ek vir jou vra. Ek wil vir jou nog iets vra: Maak asseblief vir my 'n kamer gereed, want ek hoop en weet dat God my na julle toe sal laat teruggaan omdat julle vir my gebid het.
Epafras wat saam met my in die tronk is omdat hy aan Christus Jesus behoort, stuur groete vir jou. Markus, Aristargus, Demas en Lukas werk almal saam met my en stuur ook groete vir jou. Ek bid dat die Here Jesus Christus genadig sal wees vir julle almal.