Sefanja 2

2
Julle moet verander voordat die Here julle straf
1Israeliete, julle is nie skaam oor alles
wat julle gedoen het nie.
Julle moet julle lewe verander
2voordat die dag van die Here kom.
Op die dag van die Here
sal julle brand
soos kaf in vuur brand.
Julle moet verander
voordat die Here julle straf,
want Hy is baie kwaad.
3Almal in die land
wat nederig is,
moet vra wat die Here wil hê
en hulle moet dit doen.
Julle moet aanhou om reg te doen
en nederig te wees.
Miskien sal die Here julle nie straf
wanneer Hy kom nie.
Dit sal sleg gaan met die Filistyne
4Daar sal nie meer mense wees
in die stad Gasa nie,
en die vyande sal alles afbreek
in die stad Askelon.
Al die mense in die stad Asdod
sal op een dag sterf,
en die vyande sal die stad Ekron
afbreek en verwoes.
5Ja, Filistyne, dit sal sleg gaan
met julle wat naby die see woon,
julle wat van die eiland Kreta kom.
Mense van Kanaän, Filistyne-land,
die Here sê Hy sal julle straf.
Daar sal nie meer mense
in julle land lewe nie.
6Julle woon nou hier
naby die see,
maar skaapwagters sal
hulle skape hier laat wei,
hulle sal hier krale maak
vir hulle skape en bokke.
7Die mense van Juda wat nog lewe,
sal die skape en bokke wees.
Hulle sal wei in die Filistyne se land,
hulle sal in die aande gaan slaap
in die huise
van die stad Askelon.
Hulle God die Here
sal hulle Herder wees,
Hy sal hulle seën,
sodat dit goed sal gaan met hulle.
Die Here sal die ander volke straf
8Die Here sê:
“Ek het gehoor
hoe sleg praat die Moabiete
en die Ammoniete oor my volk.
Hulle het gemaak
of my volk niks beteken nie
en hulle dink
hulle is self baie belangrik.”
9Die Here wat oor alles regeer, die God van die Israeliete, sê:
“So seker soos Ek lewe,
die Moabiete en die Ammoniete
sal word soos Sodom en Gomorra.
Daar waar hulle nou woon,
sal net doringbossies groei,
dit sal wees soos wanneer daar
baie sout in die grond is.
Daar sal nooit weer
iemand woon nie.
Die mense van my volk
wat nog lewe,
sal die Moabiete en die Ammoniete
se goed vat
en in hulle land gaan woon.”
10Dit sal gebeur omdat die Moabiete
en die Ammoniete hoogmoedig was.
Hulle het gedink hulle is baie belangrik
en hulle het gedink die Here se volk
beteken niks,
die volk van die Here
wat oor alles regeer.
11Die Moabiete en die Ammoniete
sal baie bang word vir die Here,
want Hy sal al die gode
van die aarde laat sterf.
Hulle sal nie kos hê om te eet nie.
Al die volke naby die see
en op die eilande
sal voor die Here buig,
elkeen in sy eie land.
12Die Here sal ook teen die Kussiete
oorlog maak, en hulle sal sterf.
13Dan sal Hy sy hand uitsteek na die noorde
en Hy sal die Assiriërs laat sterf.
Waar die stad Nineve nou is,
sal daar 'n droë woestyn wees
waar diere wei.
Daar sal nie mense woon nie.
14Baie soorte diere sal daar lê en rus.
Pelikane en uile sal
op die stad se pilare slaap.
Die wind sal deur die vensters waai.
By die deure sal bakstene lê
wat van bo afgeval het,
want die vyande sal al die sederhout
van die huise afhaal en wegvat.
15Nineve was 'n stad
vol vrolike mense
wat oor niks bekommerd was nie.
Hulle het gedink hulle stad
is die beste en die sterkste.
Maar die vyande
sal die stad verwoes.
Dit sal 'n plek wees waar net diere lê.
Almal wat daar verbygaan,
sal die stad Nineve spot.
Hulle sal na die hope klippe wys
en lag.

Tans Gekies:

Sefanja 2: ABA

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan