1 Konings 14

14
Oordeel oor Jerobeam
1In daardie tyd het Abia, seun van Jerobeam, siek geword. 2Jerobeam sê toe vir sy vrou: “Maak asseblief gereed; vermom jouself, sodat hulle nie weet dat jy die vrou van Jerobeam is nie, en gaan dan na Silo. Kyk, dit is waar die profeet Agija is. Dit is hy wat oor my voorspel het dat ek koning sal word oor hierdie volk. 3 Neem tien brode, gebak en 'n kruik heuning saam en gaan na hom toe. Hy sal aan jou bekend maak wat met die seun gaan gebeur.” 4Die vrou van Jerobeam het toe so gemaak. Sy het gereedgemaak, na Silo gegaan en by Agija se huis aangekom. Agija kon nie sien nie, want sy oë was al star vanweë sy ouderdom. 5Die Here het egter vooraf vir Agija gesê: “Kyk, die vrou van Jerobeam kom om jou te raadpleeg oor haar seun, want hy is siek. Dit en dit moet jy vir haar sê. Wanneer sy inkom, sal sy haar as 'n vreemdeling voordoen.”
6Net toe Agija die geluid van haar voetstappe hoor, terwyl sy by die ingang inkom, sê hy vir haar: “Kom binne, vrou van Jerobeam! Nou hoekom doen jy jou as 'n vreemdeling voor? Ek word na jou gestuur met 'n harde woord. 7Gaan sê vir Jerobeam, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Omdat Ek jou verhef het uit die volk se midde en jou as leier oor my volk Israel aangestel het, 8en Ek die koningskap van die huis van Dawid afgeskeur en dit vir jou gegee het, maar jy nie was soos my dienskneg Dawid nie, hy wat my gebooie nagekom het en My gevolg het met sy hele hart deur slegs te doen wat reg is in my oë, 9ja, omdat jy meer kwaad gedoen het as almal wat voor jou was, en jy gegaan en vir jou ander gode gemaak het, gegote beelde, om My uit te tart, en omdat jy My verwerp het, 10 daarom: Kyk, Ek gaan onheil bring oor die huis van Jerobeam. Ek sal van Jerobeam die mansmense in Israel uitroei, sowel hulle wat gevange is as hulle wat vrygelaat is. Ek sal die koningshuis van Jerobeam wegvee soos 'n mens drek wegvee, totdat hy heeltemal vernietig is. 11 As iemand van Jerobeam in die stad sterf, sal die honde hom vreet; en as iemand van Jerobeam in die veld sterf, sal die voëls van die hemel hom vreet.” ’ Ja, die Here self het dit gesê. 12En jy, staan op en gaan na jou huis toe! Wanneer jou voete die stad betree, sal die kind sterf. 13Die hele Israel sal oor hom rou en hom begrawe, want van dié wat aan Jerobeam behoort, sal net hy in 'n graf kom, omdat daar, uit die huis van Jerobeam, in hom iets goeds gevind is deur die Here, die God van Israel. 14 Die Here gaan vir Hom 'n koning laat opstaan oor Israel wat die huis van Jerobeam sal uitroei; dit is nou die tyd daarvoor. Maar wat is daar nou nog meer? 15Die Here gaan Israel tref; hulle sal wees soos 'n riet wat in die water heen en weer swaai. Hy gaan Israel wegruk van hierdie goeie grond af wat Hy vir hulle voorouers gegee het en hulle anderkant die Rivier verstrooi, omdat hulle asjeras gemaak het en die Here gedurig uitgetart het. 16 Hy gaan Israel prysgee oor die sondes van Jerobeam, die sondes wat hy gedoen het en waarmee hy Israel laat sondig het.”
17Jerobeam se vrou het opgestaan, sy het vertrek en by Tirsa aangekom. Toe sy oor die drumpel van die paleis trap, het die seun gesterf. 18Die hele Israel het hom begrawe en oor hom gerou, ooreenkomstig die woord van die Here wat Hy gespreek het by monde van sy dienskneg, die profeet Agija.
19 Die verdere geskiedenis van Jerobeam, hoe hy oorlog gevoer en regeer het – kyk, dit is opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Israel. 20Die tydperk wat Jerobeam koning was, was twee-en-twintig jaar. Hy het by sy voorouers gaan rus, en sy seun Nadab het in sy plek koning geword.
Rehabeam se koningskap
21 Rehabeam, seun van Salomo, was koning in Juda. Rehabeam was een-en-veertig jaar oud toe hy koning geword het, en hy het sewentien jaar lank as koning geheers in Jerusalem, die stad wat die Here gekies het uit al die stamme van Israel om sy Naam daar te vestig. Die naam van Rehabeam se moeder was Naäma, die Ammoniet.
22Juda het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Hulle het Hom nog meer ontstel met die sondes wat hulle gedoen het as alles wat hulle voorouers gedoen het. 23Ook hulle het vir hulleself offerhoogtes, gedenkstene en asjeras opgerig op elke hoë heuwel en onder elke skaduryke boom. 24Daar was selfs manlike tempelprostitute in die land. Die mense het al die afstootlike dade van die nasies wat die Here voor die Israeliete uit verdryf het, nagedoen.
25 In die vyfde regeringsjaar van koning Rehabeam trek Sisak, die koning van Egipte, toe op teen Jerusalem. 26 Hy het die skatte van die huis van die Here en die skatte van die koninklike paleis gevat; dit alles het hy gevat. Hy het ook al die goue skilde wat Salomo gemaak het, gevat. 27Koning Rehabeam het toe in die plek daarvan bronsskilde gemaak. Hy het dit toevertrou aan die bevelvoerders van die hardlopers wat die ingang na die koninklike paleis bewaak het. 28Telkens wanneer die koning die huis van die Here binnegegaan het, het die hardlopers dit gedra en dit daarna weer teruggeneem na die wagkamer van die hardlopers.
29 Die verdere geskiedenis van Rehabeam, en alles wat hy gedoen het, is dit nie opgeteken in die boekrol met die kronieke van die konings van Juda nie? 30 Daar was voortdurend oorlog tussen Rehabeam en Jerobeam. 31Rehabeam het by sy voorouers gaan rus, en hy is by sy voorouers begrawe in die Stad van Dawid. Sy moeder se naam was Naäma, die Ammoniet. Sy seun Abia het in sy plek koning geword.

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan