14
1Op 'n dag sê Jonatan, seun van Saul, vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van die Filistyne daar oorkant.” Maar vir sy vader het hy dit nie vertel nie. 2Saul het aan die buitewyke van Gibea gesit onder die granaatboom by Migron. Daar was ongeveer seshonderd manskappe by hom. 3Agija, seun van Agitub, die broer van Ikabod, seun van Pinehas, seun van Eli, die priester van die Here in Silo, het toe die efod gedra. Ook die manskappe het nie geweet dat Jonatan gegaan het nie.
4In die middel van die pas waar Jonatan wou oorgaan na die garnisoen van die Filistyne, was daar 'n spits rotspunt aan die oorkant, en 'n spits rotspunt aan die duskant. Die naam van die een rotspunt was Boses en die naam van die ander was Senne. 5Die een spits verrys aan die noordekant teenoor Migmas, en die ander aan die suidekant teenoor Geba.
6Jonatan sê toe vir die jong man wat sy wapens dra: “Kom ons gaan oor na die garnisoen van hierdie onbesnedenes. Miskien help die Here ons, want daar is vir die Here geen beperking om deur baie of deur min te verlos nie.” 7Sy wapendraer antwoord hom: “Doen enigiets wat u wil. As u naderkruip, kyk, ek is by u, wat u ook al besluit.”
8Toe sê Jonatan: “Dis reg; dan gaan ons oor na die manne, maar ons sorg dat hulle ons sien. 9As hulle vir ons sê, ‘Staan stil totdat ons by julle kom!’ dan bly ons staan waar ons is, en klim nie op na hulle toe nie. 10Maar as hulle sê, ‘Kom op na ons toe!’ dan gaan ons op, want dan gee die Here hulle in ons hand. Dit sal vir ons die teken wees.”
11Hulle twee het toe gesorg dat die garnisoen van die Filistyne hulle sien. Die Filistyne sê toe: “Kyk, daar is Hebreërs besig om uit die gate te kom waar hulle weggekruip het. ” 12Die manne van die garnisoen skreeu toe vir Jonatan en sy wapendraer. Hulle het gesê: “Klim op na ons toe, sodat ons julle 'n les kan leer. ” Daarop sê Jonatan vir sy wapendraer: “Klim op agter my aan, want die Here gee hulle in die hand van Israel.”
13Jonatan het hande-viervoet opgeklim, met sy wapendraer agter hom. Die Filistyne het voor Jonatan geval, en sy wapendraer agter hom het hulle die doodsteek toegedien. 14Hierdie eerste aanval, waarin Jonatan en sy wapendraer ongeveer twintig man neergevel het, het op naastenby die helfte van 'n ploegstrook plaasgevind.
15Dit het vrees veroorsaak in die kamp en in die veld, ja, onder al die manskappe. Die garnisoen en die stroperbendes, selfs hulle was aan die bewe. Die land het gesidder; dit was 'n vrees wat van God kom.
16Saul se verkenners by Gibea in Benjamin sien toe: Kyk, die massa mense spat uiteen in alle rigtings! 17Saul het vir die manskappe by hom gesê: “Monster die manne, en kyk wie van ons af weggegaan het.” Hulle hou toe 'n monstering en sowaar, Jonatan en sy wapendraer is nie daar nie! 18Toe sê Saul vir Agija: “Bring die ark van God nader.” Die ark van God was immers in dié tyd by die Israeliete.
19 Terwyl Saul nog met die priester praat, raak die opskudding wat in die kamp van die Filistyne heers, al hoe erger. Saul sê toe vir die priester: “Hou jou hand terug!” 20Saul en al die manskappe wat by hom was, het op sy bevel byeengekom en tot die stryd toegetree. En kyk, onder die Filistyne was daar volslae verwarring: Elkeen se swaard was teen sy makker gerig! 21 En die Hebreërs wat vroeër by die Filistyne aangesluit het, wat van oraloor saam met hulle in die leër opgetrek het, selfs hulle was gereed om aan te sluit by die Israeliete wat saam met Saul en Jonatan was. 22Al die manne van Israel wat in die heuwelland van Efraim weggekruip het, het gehoor dat die Filistyne vlug, en ook hulle het in die geveg aan die hakkejag deelgeneem.
23Die Here het Israel daardie dag verlos. Die geveg het voortgewoed tot anderkant Bet-Awen.
Saul se ondeurdagte eed
24Die manne van Israel was daardie dag onder druk, want Saul het die manskappe 'n eed opgelê deur te sê: “Vervloek is die man wat iets eet voor vanaand, en voordat ek my op my vyande gewreek het.” Nie een van die manskappe het toe sy mond aan iets gesit nie, 25en so ook die hele land. Hulle kom toe in 'n bos waar daar heuning op die grond was. 26Toe die manskappe by die bos aankom, is daar sowaar heuning in oorvloed! Maar niemand het daaraan geraak nie, want die manskappe was bang vir die eed.
27 Jonatan het egter nie gehoor toe sy vader die manskappe 'n eed opgelê het nie. Hy het die punt van die staf wat in sy hand was, uitgesteek, dit in 'n heuningkoek gedoop en dit met sy hand na sy mond gebring. Sy oë het daarvan opgehelder.
28Een van die manskappe reageer toe en sê: “Jou pa het die manskappe streng onder eed geplaas deur te sê, ‘Vervloek is die man wat vandag iets eet.’ Dit is waarom die manskappe moeg geword het.” 29Daarop sê Jonatan: “My pa dompel die land in ellende. Kyk tog: My oë het opgehelder omdat ek aan hierdie bietjie heuning geproe het – 30hoeveel te meer die manskappe s'n, as hulle vandag goed kon eet van die buit wat hulle by hulle vyande afgeneem het! Want nou is die slagting onder die Filistyne nie so groot nie.”
31Hulle het daardie dag die Filistyne verslaan van Migmas af tot by Ajalon. Die manskappe was baie moeg, 32en het op die buit toegesak. Hulle het kleinvee, beeste en kalwers geneem en dit op die grond geslag. Hulle het dit met bloed en al geëet. 33Saul is meegedeel: “Kyk, die manskappe is besig om teen die Here te sondig deur vleis met bloed en al te eet.” Toe sê hy: “Julle was ontrou. Rol dadelik 'n groot klip na my toe!” 34Saul het ook gesê: “Beweeg tussen die manskappe deur en sê vir hulle, ‘Elkeen moet sy bees of stuk kleinvee hier na my toe bring en dit hier slag en eet, sodat julle nie teen die Here sondig deur dit met bloed en al te eet nie.’ ” Al die manskappe het toe daardie nag elkeen sy bees saamgebring en dit daar geslag. 35 So het Saul vir die Here 'n altaar opgerig. Dit was die eerste keer dat hy vir die Here 'n altaar opgerig het.
36Saul het gesê: “Ons moet in die nag aftrek agter die Filistyne aan, tot ligdag toe onder hulle buit maak, en niemand onder hulle laat oorbly nie.” Die manskappe het gesê: “Doen wat goed is in u oë!” Maar die priester het gesê: “Laat ons hier eers tot God nader.”
37Saul het God toe geraadpleeg: “Moet ek aftrek agter die Filistyne aan? Sal U hulle in die hand van Israel oorgee?” Maar God het hom daardie dag nie geantwoord nie. 38Toe sê Saul: “Kom hier, al julle steunpilare van die volk! Vind uit, stel vas waarmee hierdie sonde vandag begaan is. 39Want so waar as die Here leef, Hy wat Israel verlos – selfs as dit deur my seun Jonatan gedoen is, moet hy beslis sterf. ” Maar van al die manskappe het nie een hom geantwoord nie. 40Toe sê hy vir die hele Israel: “Staan julle aan die een kant, dan sal ek en my seun Jonatan aan die ander kant staan.” Die manskappe het Saul geantwoord: “Doen wat goed is in u oë!” 41Saul sê toe vir die Here: “God van Israel, gee duidelikheid! ” Jonatan en Saul is uitgewys, en die manskappe was vry. 42Toe sê Saul: “Werp die lot tussen my en my seun Jonatan.” En Jonatan is uitgewys.
43Daarop sê Saul vir Jonatan: “Sê vir my wat jy gedoen het.” Jonatan het hom toe vertel. Hy het gesê: “Ek het maar net aan 'n bietjie heuning geproe met die punt van die staf wat in my hand was. Hier is ek – ek sal sterf.” 44Toe sê Saul: “Mag God my swaar straf as jy nie beslis sterf nie, Jonatan.” 45Maar die manskappe het vir Saul gesê: “Moet Jonatan, wat hierdie groot verlossing in Israel bewerk het, sterf? Hoegenaamd nie! So waar as die Here leef, nie 'n haar van sy kop sal op die grond val nie! Want met God se hulp het hy dit vandag gedoen.” So het die manskappe Jonatan laat vrykom, en hy het nie gesterf nie.
46Saul het die agtervolging van die Filistyne gestaak, en die Filistyne het na hulle plek toe gegaan.
Saul se oorloë
47Saul het die koningskap oor Israel onder beheer gekry, en het op alle fronte oorlog gevoer teen al sy vyande: teen Moab, teen die Ammoniete, teen Edom, teen die konings van Soba en teen die Filistyne. Waar hy ook al gekom het, het hy redding gebring. 48Hy het dapper opgetree en Amalek verslaan. Hy het Israel gered uit die hand van hulle plunderaars.
49Saul se seuns was Jonatan, Jiswi en Malkisua; sy twee dogters se name was Merab, die oudste, en Migal, die jongste. 50Saul se vrou se naam was Aginoam, dogter van Agimaäs. Die naam van die bevelvoerder van sy leër was Abner, seun van Ner, die oom van Saul. 51Kis, die vader van Saul, en Ner, Abner se vader, was seuns van Abiël.
52Daar was hewige gevegte met die Filistyne solank Saul geleef het. Wanneer Saul enige heldhaftige of onverskrokke man gesien het, het hy dié by hom laat aansluit.