3
Roeping van Samuel as profeet
1Die seun Samuel was in diens van die Here onder toesig van Eli. 'n Woord van die Here was seldsaam in daardie dae; geen visioene het voorgekom nie.
2In daardie tyd het Eli op sy gewone plek gelê. Sy oë het al begin swak word, hy kon nie meer sien nie. 3Die lamp van God was nog nie dood nie, en Samuel het al gaan lê in die •tempel van die Here waar die ark van God was. 4Toe roep die Here na Samuel en hy het geantwoord: “Hier is ek!” 5Hy hardloop toe na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar Eli sê: “Ek het nie geroep nie. Gaan lê maar weer.” Hy het toe gaan lê.
6Die Here roep toe weer: “Samuel!” Samuel het opgestaan, na Eli gegaan en gesê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Maar hy antwoord: “Ek het nie geroep nie, my seun. Gaan lê maar weer.” 7Samuel het nog nie die Here geken nie, en die woord van die Here was nog nie aan hom geopenbaar nie.
8Die Here roep toe weer na Samuel vir die derde maal. Hy staan toe op, gaan na Eli en sê: “Hier is ek, want u het na my geroep.” Eli besef toe dat dit die Here is wat na die seun roep. 9Eli sê toe vir Samuel: “Gaan lê, en as Hy jou roep, moet jy sê, ‘Spreek, Here, want u dienskneg luister.’ ” Samuel gaan toe en gaan lê op sy plek.
10Die Here het gekom en gaan staan, en geroep soos die vorige kere: “Samuel! Samuel!” Samuel het geantwoord: “Spreek, want u dienskneg luister.” 11Die Here sê toe vir Samuel: “Kyk, Ek gaan iets doen in Israel wat elkeen wat dit hoor, se twee ore sal laat tuit. 12Op daardie dag sal Ek teenoor Eli alles vervul wat Ek oor sy huis aangekondig het, van die begin tot die einde. 13Ek wil aan hom bekend maak dat Ek vir altyd sy huis gaan oordeel oor die sondeskuld waarvan hy geweet het. Want terwyl sy seuns God gelaster het, het hy hulle nie tereggewys nie. 14Daarom lê Ek 'n eed af teenoor die huis van Eli: Die sondeskuld van Eli se huis sal vir ewig nie versoen kan word deur slagoffer en •graanoffer nie. ”
15Samuel het bly lê tot die oggend, en hy het die deure van die huis van die Here oopgemaak. Maar Samuel was bang om vir Eli van die verskyning te vertel. 16Eli roep toe na Samuel en sê: “Samuel, my seun!” Hy het geantwoord: “Hier is ek!” 17Toe sê Eli: “Wat is dit wat Hy vir jou gesê het? Moet dit tog nie vir my wegsteek nie. Mag God jou swaar straf as jy enigiets vir my wegsteek van alles wat Hy vir jou gesê het.”
18Samuel het toe alles vir hom vertel. Hy het niks vir hom weggesteek nie. Daarop sê Eli: “Hy is die Here – wat goed is in sy oë, sal Hy doen.”
19Samuel het grootgeword. Die Here was met hom en het nie een van sy woorde onvervuld gelaat nie. 20 Die hele Israel, van Dan tot Berseba, het geweet dat Samuel betroubaar was as 'n profeet van die Here. 21Die Here het daarna weer in Silo verskyn; ja, die Here het Hom in Silo deur sy woord aan Samuel geopenbaar.