2 Konings 8:1-6

2 Konings 8:1-6 AFR20

Elisa het gepraat met die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, en gesê: “Maak gereed en gaan, jy en jou huisgesin; gaan bly as •vreemdeling waar jy ook al kan, want die HERE het 'n hongersnood aangekondig. Die ergste is, dit het gekom om sewe jaar lank oor die land te heers.” Die vrou het gereedgemaak en gedoen wat die man van God gesê het. Sy en haar huisgesin het gegaan, en sy het sewe jaar lank as vreemdeling in die land van die Filistyne gebly. Aan die einde van die sewe jaar het die vrou teruggekeer uit die land van die Filistyne. Sy het uitgegaan om haar op die koning te beroep oor haar huis en haar grond. Die koning was juis in gesprek met Gehasi, die dienaar van die man van God, en het gesê: “Vertel my asseblief van al die groot dade wat Elisa gedoen het.” Hy was besig om vir die koning te vertel hoe Elisa 'n dooie lewend gemaak het, en juis toe kom die vrou wie se seun hy lewend gemaak het, daar aan met die beroep op die koning oor haar huis en haar grond. Gehasi sê toe: “My heer die koning, dit is die vrou, en dit is haar seun wat Elisa lewend gemaak het!” Die koning vra toe die vrou uit en sy vertel hom. Daarna het die koning 'n paleisamptenaar aan haar beskikbaar gestel en gesê: “Gee alles terug wat aan haar behoort, ook die volle opbrengs van die grond, vanaf die dag dat sy die land verlaat het tot nou toe.”

Gratis leesplanne en oordenkings oor 2 Konings 8:1-6