2 Samuel 20

20
Seba se opstand en dood
1'n Opstoker met die naam Seba, seun van Bigri, 'n Benjaminiet, was toevallig daar. Hy het op die •ramshoring geblaas en gesê:
“Ons het geen aanspraak op Dawid,
geen erfdeel in die seun
van Isai nie;
elkeen na sy tente toe, Israel!”
2Al die manne van Israel het toe opgetrek, weg van Dawid af, agter Seba, seun van Bigri, aan. Maar die manne van Juda was aan hulle koning se sy van die Jordaan af tot by Jerusalem.
3 Toe Dawid by sy paleis in Jerusalem aankom, het die koning die tien vroue, die byvroue wat hy agtergelaat het om die paleis op te pas, geneem en hulle geplaas in 'n plek van veilige bewaring. Hy het aan hulle kos voorsien, maar hy het nie by hulle ingegaan nie. Hulle was afgesonder tot die dag van hulle dood – 'n lewenslange weduweeskap.
4Die koning het vir Amasa gesê: “Roep vir my die manne van Juda binne drie dae op. Jy moet self ook hier kom staan.” 5Amasa het toe gegaan om Juda op te roep, maar hy is langer opgehou as die vaste tyd wat vir hom bepaal is.
6Toe sê Dawid vir Abisai: “Nou gaan Seba, seun van Bigri, ons meer kwaad aandoen as Absalom. Neem jy dan die dienaars van jou heer en sit hom agterna, anders sal hy vir hom versterkte stede kan vind en ons groot skade aandoen. ” 7Die manne van Joab, die Kreti en Pleti en al die helde het agter hom aan uitgetrek. Hulle het uit Jerusalem getrek om Seba, seun van Bigri, te agtervolg.
8Hulle was naby die groot klip wat by Gibeon is, maar Amasa het voor hulle daar aangekom. Joab het sy gevegskleed as gewone drag aangehad en bo-oor, om sy heupe, was 'n lyfband met 'n swaard in sy skede vasgemaak. Toe hy vorentoe beweeg, het die swaard uitgeval. 9Joab het vir Amasa gesê: “Gaan dit goed met jou, my broer?” En toe gryp Joab met die regterhand Amasa se baard om hom te soengroet. 10Amasa het egter nie rekening gehou met die swaard wat in Joab se ander hand was nie. Hy het hom daarmee in die maag gesteek, sodat sy ingewande op die grond uitgestort het. Hy het gesterf sonder dat hy hom 'n tweede keer gesteek het. Joab en Abisai, sy broer, het toe vir Seba, seun van Bigri, agternagesit. 11Een van Joab se jong manne het by Amasa bly staan en gesê: “Wie Joab goedgesind is en wie vir Dawid is, volg Joab!” 12Amasa het nog lê en rondkrul in sy bloed in die middel van die pad, en toe die man sien dat al die manskappe gaan staan, het hy Amasa uit die pad uit gerol, die veld in. Hy het 'n kledingstuk oor hom gegooi nadat hy gesien het dat elkeen wat by hom kom, gaan staan. 13Nadat hy uit die pad verwyder is, het al die manne verbygegaan agter Joab aan om Seba, seun van Bigri, te agtervolg.
14Seba het by al die stamme van Israel langs gegaan na Abel en Bet-Maäga en na al die Beriete. Hulle het byeengekom en die stad binnegegaan, ook agter hom aan. 15Joab se manne het gekom en hom in Abel-Bet-Maäga beleër. Hulle het 'n beleëringswal teen die stad opgehoop, sodat dit in posisie was by die verdedigingswal. Terwyl al die manskappe by Joab verwoesting aangerig het om die stadsmuur te laat val, 16het 'n wyse vrou uit die stad geroep: “Luister, luister! Sê julle asseblief vir Joab, ‘Kom nader hierheen, ek wil met u praat.’ ” 17Toe hy nader gaan na haar, sê die vrou: “Is u Joab?” “Dit is ek,” antwoord hy. Sy sê toe vir hom: “Luister na die woorde van u dienares.” “Ek luister,” het hy gesê. 18Daarop sê sy: “In die verlede het hulle altyd gesê, ‘Doen maar net navraag in Abel,’ en so is die saak besleg. 19Ek praat namens die vredeliewendes van die getroues in Israel. U probeer om 'n stad, ja, 'n moeder in Israel, dood te maak. Waarom wil u die eiendom van die Here verslind?” 20Joab het egter geantwoord en gesê: “Ek sal dit nooit ooit doen nie! Ek sal nie verslind nie en ek sal nie vernietig nie. 21Dit is nie waaroor dit gaan nie; maar 'n man uit die heuwelland van Efraim – Seba, seun van Bigri, is sy naam – het sy hand gelig teen die koning, teen Dawid. Lewer hom alleen uit, dan sal ek wegtrek van die stad af.” Toe sê die vrou vir Joab: “Goed, sy kop sal na u van die stadsmuur af gegooi word.”
22 Die vrou het met haar wysheid na al die mense gegaan. Hulle het Seba, seun van Bigri, se kop afgekap en na Joab gegooi. Hy het toe op die ramshoring geblaas, en hulle het uiteengegaan, weg van die stad, elkeen na sy tente toe. Joab het teruggekeer na Jerusalem, na die koning.
Dawid se amptenare
23 Joab was in bevel van die hele leër in Israel, en Benaja, seun van Jojada, van die Kreti en Pleti. 24Adoniram was in bevel van die dwangarbeid, en Josafat, seun van Agilud, was die herout. 25Sewa was sekretaris, en Sadok en Abjatar was priesters. 26Ook Ira, die man uit Jaïr, het vir Dawid as priester opgetree.

Tans Gekies:

2 Samuel 20: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan