2 Thessalonisense 3

3
Laaste versoeke en opdragte
1Ten slotte, broers, bid vir ons, dat die woord van die Here vinnig sy loop sal neem, en net soos by julle, geprys sal word, 2en dat ons gered sal word van die kwaadwillige en bose mense; want nie almal het geloof nie.
3Maar die Here is getrou; Hy sal julle versterk en van die Bose bewaar.
4Deur die Here vertrou ons dat julle ook dit doen, en sal aanhou doen, wat ons julle beveel het. 5Mag die Here julle harte rig op die liefde van God en die volharding van •Christus.
6 Maar ons beveel julle in die Naam van ons Here Jesus Christus, broers, dat julle elke broer moet vermy wat hom onordelik gedra, en nie optree volgens die oorlewering wat hulle van ons ontvang het nie. 7Julle weet tog self hoe nodig dit is dat julle ons voorbeeld volg. Ons het ons immers nie onordelik onder julle gedra nie; 8ons het niemand se brood sonder betaling geëet nie, maar met swoeg en sweet, bedags en snags gewerk, sodat ons vir niemand van julle 'n las sou wees nie – 9nie dat ons nie die reg daartoe gehad het nie, maar sodat ons onsself vir julle as voorbeeld kon stel om na te volg. 10Want juis toe ons by julle was, het ons julle steeds beveel dat iemand wat nie wil werk nie, ook nie behoort te eet nie. 11Want ons het gehoor dat sommige van julle onordelik optree, en nie wil werk nie, maar oral inmeng. 12Ons raai sulke mense aan, ja, deur die Here Jesus Christus spoor ons hulle aan, om hulle dagtaak kalm te verrig, en so hulle eie brood te verdien. 13 Maar julle, broers, julle moenie moeg word om goed te doen nie. 14As iemand egter nie ons opdrag in hierdie brief gehoorsaam nie, merk hom, en vermy hom, sodat hy skaam kry. 15Julle moet hom egter nie as 'n vyand beskou nie, maar vermaan hom as 'n broer.
Vredeswens en groet
16Mag die Here van vrede self, te alle tye en op elke manier, vir julle vrede gee. Die Here bly met julle almal. 17 Dié groetwoord in my eie handskrif: Van Paulus. Dit is my waarmerk in elke brief. Só skryf ek.
Seëngroet
18 Die genade van ons Here Jesus •Christus bly met julle almal!

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan