Handelinge 25

25
Paulus voor Festus
1Drie dae nadat Festus in die provinsie aangekom het, het hy van Caesarea af na Jerusalem opgegaan. 2Daar het die leierpriesters en die Joodse leiers 'n aanklag teen Paulus by hom ingedien. Hulle het 'n beroep op hom gedoen 3 en hom die guns gevra om Paulus na Jerusalem te laat haal, aangesien hulle 'n hinderlaag beplan het om hom onderweg dood te maak. 4Festus het egter geantwoord dat Paulus in Caesarea in aanhouding sou bly, maar dat hyself spoedig daarheen sou vertrek. 5 “Laat diegene onder julle wat bevoeg is, dan saamgaan,” het hy gesê, “en laat hulle hom aankla as daar enigiets onwettigs by hierdie man te vinde is.”
Paulus se beroep op die keiser
6Hy het nie langer as agt tot tien dae by hulle gebly nie, en toe na Caesarea gegaan. Die volgende dag het hy op die regbank gaan sit en beveel dat Paulus gehaal word. 7Toe Paulus verskyn, het die Jode wat van Jerusalem af gekom het, om hom gaan staan en baie en ernstige aanklagte teen hom ingebring, wat hulle nie kon bewys nie. 8Paulus het homself toe verdedig: “Ek het niks verkeerds gedoen nie, nie teen die wet van die Jode, of teen die •tempel, of teen die keiser nie.” 9Maar Festus wou die Jode 'n guns bewys en het Paulus geantwoord: “Wil jy opgaan na Jerusalem en daar voor my verhoor word oor hierdie dinge?” 10Paulus het egter geantwoord: “Voor die keiser se regbank staan ek tereg, en dit is waar ek verhoor moet word. Ek het nie die Jode veronreg nie, soos u self ook baie goed weet. 11As ek wel oortree het en iets gedoen het wat die dood verdien, probeer ek nie die dood vermy nie. Maar as daar niks steek in die dinge waarvan hulle my aankla nie, kan niemand my aan hulle oorgee nie. Ek beroep my op die keiser!” 12Nadat Festus met sy raad samesprekings gevoer het, het hy verklaar: “Op die keiser het jy jou beroep; na die keiser sal jy gaan!”
Festus se gesprek met Agrippa
13Ná verloop van 'n paar dae het koning Agrippa en Bernice in Caesarea aangekom om aan Festus 'n beleefdheidsbesoek te bring. 14Aangesien hulle 'n hele paar dae daar deurgebring het, het Festus Paulus se saak aan die koning voorgelê en gesê: “Hier is 'n man wat deur Feliks as gevangene agtergelaat is. 15Toe ek na Jerusalem gegaan het, het die leierpriesters en die familiehoofde van die Jode aanklagte teen hom ingedien en versoek dat hy veroordeel word. 16Ek het hulle geantwoord dat dit nie 'n Romeinse gebruik is om enige mens oor te lewer voordat die aangeklaagde die geleentheid gekry het om hom van aangesig tot aangesig voor sy aanklaers te verdedig teen die beskuldiging nie. 17 Toe hulle dus hier bymekaargekom het, het ek sonder enige uitstel die volgende dag op die regbank gaan sit en beveel dat die man laat haal word. 18Die aanklaers het opgestaan, maar geen beskuldiging van die soort misdrywe wat ek verwag het, teen hom ingebring nie. 19Hulle het wel 'n aantal twisvrae aan hom gestel oor hulle godsdiens en oor 'n sekere Jesus wat dood is en van wie Paulus beweer dat Hy leef. 20Omdat ek nie raad geweet het met die ondersoek na hierdie sake nie, het ek gevra of hy na Jerusalem wou gaan om daar op hierdie aanklagte tereg te staan. 21 Maar aangesien Paulus hom daarop beroep het om in aanhouding te bly vir 'n beslissing deur Sy Majesteit, het ek beveel dat hy aangehou word totdat ek hom na die keiser kan stuur.” 22Agrippa het aan Festus gesê: “Ek sou self ook graag die man wou hoor.” Hy het geantwoord: “Môre sal jy hom hoor!”
Paulus se saak voor Agrippa
23 Die volgende dag het Agrippa en Bernice met groot vertoon opgedaag. Hulle het saam met die chiliarge en die vooraanstaande manne van die stad die ontvangsaal binnegegaan. Toe is Paulus op bevel van Festus na binne gebring. 24Daarop sê Festus: “Koning Agrippa, en al die mans hier saam met ons teenwoordig, kyk, hier is die man oor wie die hele skare Jode in Jerusalem, en ook hier, 'n beroep op my gedoen het, terwyl hulle luidkeels te kenne gegee het dat hy nie langer behoort te leef nie. 25Ek kon egter niks vind wat hy gedoen het om die dood te verdien nie, maar omdat hy hom op Sy Majesteit beroep het, het ek besluit om hom daarheen te stuur. 26Ek het egter niks konkreets om oor hom aan my heer te skryf nie. Daarom het ek hom voor julle laat verskyn, en veral voor u, koning Agrippa, sodat ek ná afloop van hierdie voorondersoek iets sou kon hê om te skryf. 27Dit lyk immers vir my onredelik om 'n gevangene aan te stuur sonder om die aanklagte teen hom aan te dui.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan