Deuteronomium 30

30
Vergifnis ná berou
1“ Wanneer al hierdie dinge, die seën en die vervloeking wat ek aan jou voorhou, oor jou gekom het, en jy dit ter harte neem waar jy onder al die nasies is waarheen die Here jou God jou gaan verdryf, 2en wanneer jy terugkeer na die Here jou God en met hart en siel na sy stem luister, net soos ek jou vandag beveel, jy en jou kinders, 3dan sal die Here jou God jou lot verander. Hy sal Hom oor jou ontferm en jou weer bymekaarmaak uit al die volke waarheen die Here jou God jou verstrooi het. 4 Selfs al is jy verstrooi tot aan die einde van die aarde, van daar af sal die Here jou God jou bymekaarmaak, ja, van daar af sal Hy jou gaan haal. 5Die Here jou God sal jou bring na die land wat jou voorouers in besit geneem het, en jy sal dit in besit neem. Hy sal jou goed behandel en jou meer maak as jou voorouers. 6 Die Here jou God sal jou hart besny en die hart van jou nageslag, sodat jy die Here jou God met hart en siel sal liefhê, sodat jy kan leef. 7Die Here jou God sal al hierdie vervloekings op jou vyande lê en op jou haters wat jou agtervolg. 8Maar jy sal weer na die stem van die Here luister en al sy gebooie wat ek vandag vir jou voorskryf, uitvoer. 9Die Here jou God sal aan jou ryke oorvloed skenk: in al jou handewerk, in die vrug van jou liggaam, die vrug van jou diere en die vrug van jou grond. Ja, die Here sal Hom weer tot jou voordeel oor jou verheug soos Hy Hom oor jou voorouers verheug het, 10as jy net sal luister na die stem van die Here jou God, deur sy gebooie en vaste voorskrifte wat op hierdie •boekrol met die wet geskryf staan, na te kom; as jy met hart en siel sal terugkeer na die Here jou God.
11“ Ja, hierdie gebod wat ek jou vandag beveel, is nie vir jou te moeilik nie en dit is nie ver weg nie. 12 Dit is nie in die hemel nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons na die hemel opgaan, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ 13Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy moet sê, ‘Wie sal vir ons oorgaan tot oorkant die see, sodat hy dit vir ons kan gaan haal en ons dit laat hoor, dat ons dit kan uitvoer?’ 14Nee, die woord is baie naby jou – in jou mond en in jou hart, sodat jy dit kan uitvoer.
15 “Kyk, vandag hou ek aan jou die lewe en wat goed is, die dood en wat sleg is, voor. 16Wat ek jou vandag beveel, is om die Here jou God lief te hê, deur sy paaie te volg en sy gebooie, sy vaste voorskrifte en sy beslissings na te kom; dan sal jy leef en vermeerder, en sal die Here jou God jou seën in die land waarheen jy op pad is om dit in besit te neem. 17Maar as jou hart afwyk en jy nie luister nie, jou laat verlei en in aanbidding buig voor ander gode en hulle dien, 18dan maak ek vandag aan julle bekend dat julle beslis tot niet sal gaan. Julle sal nie lank leef op die grond waarheen jy oor die Jordaan trek om dit in besit te gaan neem nie. 19Ek roep vandag die hemel en die aarde as getuies teen julle. Die lewe en die dood, die seën en die vervloeking, hou ek aan jou voor: Kies dan die lewe, sodat jy kan leef, jy en jou nageslag, 20deur die Here jou God lief te hê, na sy stem te luister en aan Hom vas te hou. Want dit is jou lewe: om jou lewe lank te woon op die grond wat die Here met 'n eed beloof het aan jou voorvaders om aan hulle te gee, aan Abraham, Isak en Jakob.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan