Deuteronomium 8

8
Trou aan God
1“ Elke gebod wat ek vandag vir jou voorskryf, moet julle nougeset nakom, sodat julle kan leef en meer word en in die land ingaan wat die Here met 'n eed aan julle voorvaders beloof het, en dit in besit neem. 2 Dink aan die hele pad waarlangs die Here jou God jou hierdie veertig jaar in die woestyn gelei het om jou nederig te maak, om jou te toets, om uit te vind wat in jou hart leef: Sou jy sy gebooie nakom of nie? 3 Hy het jou nederig gemaak, jou laat honger ly en jou die manna laat eet wat jy nie geken het nie en jou voorouers ook nie geken het nie, sodat Hy jou kon laat verstaan dat die mens nie van brood alleen sal leef nie, maar dat die mens leef van elke uitspraak uit die mond van die Here. 4 Vir hierdie veertig jaar het die klere aan jou lyf nie verslyt nie en het jou voete nie geswel nie.
5“ Wees dan in jou hart oortuig daarvan dat die Here jou God jou opvoed soos 'n man sy seun opvoed. 6Kom daarom die gebooie van die Here jou God na deur sy paaie te volg en ontsag vir Hom te hê, 7 want die Here jou God gaan jou in 'n goeie land bring: 'n land met waterryke dale, fonteine en ondergrondse water wat in die valleie en op die berge uitvloei; 8'n land met koring en gars, met wingerde, vyebome en granaatboorde, 'n land met olieryke olywe en heuning; 9'n land waar jy nie in armoede brood sal eet nie, ja, waar jy geen gebrek sal hê nie; 'n land waar die klippe ystererts is en waar jy kopererts in die berge myn. 10Jy sal eet en versadig word en die Here jou God prys oor die goeie land wat Hy aan jou gegee het.
11“ Wees versigtig dat jy nie die Here jou God vergeet deur nie sy gebooie, sy beslissings en vaste voorskrifte wat ek vandag vir jou voorskryf, na te kom nie. 12 Wees versigtig dat, wanneer jy eet en versadig word en goeie huise bou en bewoon, 13en jou beeste en kleinvee vermeerder, en jy vir jouself baie silwer en goud verkry, en alles wat jy het, meer word, 14dat jou hart dan nie hoogmoedig raak en jy die Here jou God vergeet wat jou uit Egipteland, uit 'n plek van slawerny, uitgelei het nie. 15 Dit is Hy wat jou gelei het deur die groot en vreesaanjaende woestyn vol giftige slange en skerpioene, 'n dor land waar daar geen water is nie; Hy wat vir jou water uit klipharde rots laat kom het; 16Hy wat jou in die woestyn manna laat eet het, iets wat jou voorouers nie geken het nie, om jou nederig te maak en jou te toets, om jou uiteindelik goed te behandel.
17 “As jy sou dink, my krag en my magtige hand het vir my hierdie rykdom verkry, 18dan moet jy die Here jou God onthou, want dit is Hy wat vir jou die krag gee om rykdom te verkry, sodat Hy sy verbond wat Hy aan jou voorvaders met 'n eed bevestig het, gestand kan doen soos dit vandag is. 19As dit dan wel sou gebeur dat jy die Here jou God vergeet en agter ander gode aanloop en hulle dien en voor hulle in aanbidding buig, dan waarsku ek julle vandag dat julle beslis tot niet sal gaan. 20Soos die nasies wat die Here voor julle vernietig, sal julle ook tot niet gaan, net omdat julle nie na die stem van die Here julle God geluister het nie.”

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan