30
Verdere profesieë teen Egipte
1Die woord van die Here het tot my gekom: 2“Mensekind, profeteer en sê, ‘So sê my Heer, die Here:
“Huil! Helaas, dit is die dag!
3Ja, naby is die dag;
naby is die dag van die Here –
'n dag van wolke;
'n tyd van oordeel oor nasies
sal dit wees.
4'n Swaard sal teen Egipte kom;
daar sal 'n siddering van angs wees
in Kus
wanneer deurboordes in Egipte val.
Hulle sal sy rykdom wegvat
en sy fondamente afbreek.
5“ ‘ “Kus, Put en Lud,
al die huurtroepe en Kub,
ook mense uit die land van die verbond
sal deur die swaard
saam met hulle val.”
6“ ‘ So sê die Here:
“Hulle wat Egipte ondersteun,
sal val;
die krag waarop hy trots is,
sal ondergaan.
Van Migdol tot by Sewene
sal hulle deur die swaard
in Egipte val.”
Dit is die uitspraak
van my Heer, die Here.
7“ ‘ “ Hulle sal verlate wees
tussen lande wat verlate lê,
en sy dorpe sal lê tussen stede
wat puinhope is.
8Hulle sal besef dat Ek die Here is
wanneer Ek 'n vuur aansteek
in Egipte,
en al sy helpers gebreek word.
9“ ‘ “Daardie dag sal boodskappers in skepe van My af uitgaan om Kus, wat vol selfvertroue is, te verskrik. Daar sal 'n siddering van angs by hulle wees op die dag van Egipte; want kyk, dit kom.”
10“ ‘ So sê my Heer, die Here:
“Ek maak 'n einde
aan die rykdom van Egipte
deur die hand van Nebukadresar,
die koning van Babilonië.
11 Hy en sy manskappe saam met hom
– die gewelddadigstes van die nasies –
word gebring om die land te verwoes.
Hulle sal hulle swaarde trek
teen Egipte
en die land met deurboordes vul.
12 Ek sal die strome van die Nyl
droë grond maak,
en die land oorlewer
in die hand van booswigte.
Ek sal die land met alles daarin
verwoes deur die hand van vreemdes.
Ek, die Here, het gepraat.”
13“ ‘ So sê my Heer, die Here:
“Ek sal die afgodsbeelde vernietig,
die nikswerd afgode uit Nof
laat verdwyn;
en 'n leier uit Egipteland
sal daar nie meer wees nie.
Ek sal vrees laat posvat in Egipte.
14Ek sal Patros verlate maak,
'n vuur aansteek in Soan,
oordele voltrek in No.
15Ek sal my woede uitstort
oor Sin, die vesting van Egipte.
Ek sal die hordes van No uitroei.
16Ek sal 'n vuur aansteek in Egipte;
Sin sal ineenkrimp van angs;
No sal oopgeruk word;
en Nof – helder oordag
is daar teenstanders!
17Die jongmanne van On en Pi-Beset
sal deur die swaard val;
die stede self sal in ballingskap gaan.
18In Tagpanhes sal die dag
donker wees
wanneer Ek daar die jukke
van Egipte breek,
en die krag waarop hy trots is,
tot 'n einde kom.
Die stad self – 'n wolk sal dit oordek,
en haar dogters sal in ballingskap
gaan.
19Ek sal oordele in Egipte voltrek,
en hulle sal besef dat Ek die Here is.” ’ ”
20In die elfde jaar, in die eerste maand, op die sewende dag van die maand, het die woord van die Here tot my gekom: 21“ Mensekind, die arm van die farao, die koning van Egipte, het Ek gebreek. Kyk, dit is nie verbind sodat dit kan genees, nie gespalk sodat dit sterk kan word en 'n swaard kan vashou nie. 22Daarom, so sê die Heer, die Here, ‘dit is Ek teen die farao, die koning van Egipte! Ek sal sy arms breek, die gesonde een en die gebreekte een. Ek sal sy swaard uit sy hand laat val, 23en Ek sal die Egiptenare onder die nasies versprei, hulle verstrooi in die lande. 24Ek sal die koning van Babilonië se arms sterk maak en my swaard in sy hand gee. Maar Ek sal die arms van die farao breek. Dodelik verwond, sal hy kreunend voor hom kerm. 25Ek sal die koning van Babilonië se arms sterk maak, maar die farao se arms sal slap hang. Hulle sal besef dat Ek die Here is wanneer Ek my swaard in die hand van die koning van Babilonië gee, en hy dit uitsteek na Egipteland. 26Ek sal die Egiptenare onder die nasies versprei en hulle verstrooi in die lande. Dan sal hulle besef dat Ek die Here is.’ ”