Genesis 19:1-11
Genesis 19:1-11 AFR20
Die twee engele het teen die aand in Sodom aangekom terwyl Lot in die stadspoort van Sodom sit. Toe Lot hulle sien, staan hy op, gaan hulle tegemoet en buig laag met sy gesig na die grond. Hy sê toe: “Ag, menere, draai asseblief af na die huis van u dienaar, bly die nag oor en was u voete! U kan vroeg opstaan en op u pad gaan.” Maar hulle het gesê: “Nee, ons sal hier in die oop ruimte oornag.” Hy het egter ernstig by hulle daarop aangedring, en hulle het na hom afgedraai en by sy huis aangekom. Hy het vir hulle 'n maaltyd voorberei en ongesuurde brode gebak, en hulle het geëet. Voordat hulle gaan slaap, kom die manne van die stad, die manne van Sodom, van oral oor na die huis, jonk en oud, al die mense, sonder uitsondering. Hulle roep toe na Lot en sê vir hom: “Waar is die mans wat vannag by jou aangekom het? Bring hulle uit na ons toe, sodat ons met hulle gemeenskap kan hê!” Lot het na hulle uitgegaan, na die ingang, en die deur agter hom toegemaak. Hy het gesê: “My broers, moet asseblief nie iets slegs doen nie! Kyk, ek het twee dogters wat nog nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Laat ek hulle liewer na julle uitbring. Maak dan met hulle soos dit goed is in julle oë. Net aan hierdie mans moet julle nie iets doen nie, want juis daarom het hulle onder die skadu van my dak ingekom.” Maar hulle het gesê: “Gee pad daar!” Verder sê hulle: “Hierdie man het gekom om as •vreemdeling hier te woon, en hy wil sowaar 'n oordeel vel! Nou sal ons jou meer kwaad aandoen as vir hulle!” Hulle het heftig aangedring by die man, by Lot, en nader beweeg om die deur af te breek. Maar die mans het hulle hande uitgesteek, Lot na hulle toe ingetrek en die deur gesluit. Hulle het ook die mans wat by die ingang van die huis was, van klein tot groot, met blindheid geslaan. Die mans het toe maar opgegee om die deur te probeer vind.

