God het aan Noag gedink, ook aan al die wilde en mak diere wat saam met hom in die ark was. Toe het God 'n wind oor die aarde laat waai, en die waters het tot rus gekom. Die fonteine van die •oerwater en die vensters van die hemel is gesluit, en die stortreën uit die hemel is teruggehou. Die water het geleidelik van die aarde af teruggevloei. Die water het ná verloop van honderd-en-vyftig dae minder geword. In die sewende maand, op die sewentiende dag van die maand, het die ark op die Araratberge tot rus gekom. Die water het geleidelik minder geword, tot in die tiende maand. In die tiende maand, op die eerste dag van die maand, het die toppe van die berge sigbaar geword.
Ná verloop van veertig dae het Noag die ark se luik wat hy gemaak het, oopgemaak, en 'n kraai losgelaat. Maar dié het heen en weer bly vlieg totdat die water van die aarde af weggedroog het. Toe het Noag 'n duif wat by hom was, losgelaat om te sien of die water oor die aardbodem verminder het. Die duif kon nêrens 'n rusplek vir sy pote kry nie, en het na hom teruggekeer in die ark. Daar was immers nog water oor die hele oppervlakte van die aarde. Hy het sy hand uitgesteek, die duif gevang en by hom in die ark ingeneem. Hy het daarna nog sewe dae gewag en weer die duif uit die ark losgelaat. Die duif het teen laatmiddag na hom teruggekeer; en kyk, daar was 'n vars olyfblaar in sy bek! Noag het toe geweet dat die water oor die aarde verminder het. Hy het nog sewe dae gewag en die duif losgelaat, maar die duif het nie weer na hom teruggekeer nie.
In die seshonderd-en-eerste jaar van Noag se lewe, op die eerste dag van die eerste maand, was die water van die aarde af weggedroog. Noag het die deksel van die ark verwyder en gesien: Kyk, die grondoppervlak was droog! In die tweede maand, op die sewe-en-twintigste dag van die maand, was die aarde droog.
God het toe met Noag gepraat: “Gaan uit die ark uit, jy en jou vrou en jou seuns en die vroue van jou seuns saam met jou. Al die diere wat by jou is, van elke soort – voëls, mak diere, al die kruipende diere wat op die aarde rondbeweeg – laat hulle saam met jou uitgaan, dat hulle op die aarde kan rondbeweeg en vrugbaar wees en vermeerder op die aarde.”
Noag het toe uitgegaan, en sy seuns, sy vrou en die vroue van sy seuns saam met hom. Al die diere, al die kruipende diere en al die voëls, alles wat rondbeweeg op die aarde, het volgens hulle soorte uit die ark uitgegaan.
Noag het 'n altaar vir die HERE gebou en van al die rein diere en rein voëls geneem en op die altaar •brandoffers gebring. Die HERE het die geurige offer geruik, en die HERE het in sy hart gesê: “Ek sal nooit weer die grond vervloek vanweë die mens nie, alhoewel die mens se hart van sy jeug af neig na wat boos is. Ek sal nooit weer alles wat lewe tref, soos Ek gedoen het nie.
“Al die dae wat die aarde nog daar is,
sal saaityd en oestyd,
koue en hitte,
somer en winter,
dag en nag nie ophou nie.”