Habakuk 3:12-19

Habakuk 3:12-19 AFR20

In verontwaardiging stap U oor die aarde, in toorn trap U nasies plat. U trek op tot die redding van u volk, U kom tot die redding van u gesalfde. U verpletter koppe; U ontbloot die binneste van die goddelose van die heup tot die nek. •Sela U splyt met sy knuppels die koppe van sy magtiges wanneer hulle aanstorm om my te verstrooi, wanneer dit hulle vreugde is om die weerlose in 'n skuilplek te verslind. U het met u perde die see getrap, daardie skuimende watermassa. Toe ek dit hoor, het my ingewande geril, vir die geluid daarvan het my lippe gebewe, 'n lamheid het in my gebeente gekom; ja, ek het daar gestaan en bewe, want ek moes wag vir die dag van benoudheid om aan te breek vir die volk wat ons aanval. Al sou vyebome nie bot nie, daar geen opbrengs aan die wingerdstokke wees nie, die drag van die olyfbome teleurstel, die landerye niks te ete lewer nie, kleinvee uit die kraal verdwyn en geen beeste in die stalle oor wees nie; nogtans sal ek jubel in die HERE, sal ek juig in die God wat my verlos. Die HERE, my Heer, is my krag, Hy maak my voete soos wildsbokke, op my hoë plekke laat Hy my loop.

Gratis leesplanne en oordenkings oor Habakuk 3:12-19