Jesaja 27

27
1 Op daardie dag sal die Here
met sy wrede en groot
en sterk swaard
rekenskap eis van Leviatan,
die vinnige slang,
van Leviatan, die kronkelende slang.
Die monster wat in die see is,
sal Hy doodmaak.
2 Op daardie dag sal daar
'n pragtige wingerd wees.
“Sing daaroor!
3 Ek, die Here, hou daaroor wag,
gee dit telkens water.
Sodat niks dit skade aandoen nie,
hou Ek dag en nag daaroor wag.
4Ek is nie meer woedend nie.
As Ek doringstruike en onkruid
sou vind, sou Ek 'n stryd
daarmee aanknoop;
Ek sou dit alles saam
aan die brand steek.
5Of anders sou hulle moes
vasgryp aan die toevlug
wat Ek bied,
met My vrede maak,
ja, vrede met My maak.”
6 In die tye wat kom,
sal Jakob wortel skiet;
Israel sal in bloei staan en uitspruit.
Die oppervlakte van die aarde
sal bedek wees met die opbrengs.
7Het die Here Israel geslaan
soos Hy dié geslaan het
wat vir Israel geslaan het?
Of is Israel om die lewe gebring
op dieselfde manier
as dié wat deur die Here
om die lewe gebring is?
8Deur haar prys te gee,
haar weg te stuur,
het U telkens met haar geworstel.
Op die dag van die oostewind,
het die Here haar
met sy sterk wind weggedryf.
9 Daarom, op hierdie manier
word versoening gedoen
vir die sondeskuld van Jakob;
en dít sal die uitkoms wees
van die wegneem van sy sonde:
Wanneer hy al die altaarklippe
laat word soos kalkklippe
wat stukkend geslaan is,
sal die asjeras en wierookaltare
nie langer bly staan nie.
10 Ja, 'n stad wat versterk was,
lê eensaam,
'n weiveld wat versaak
en agtergelaat is,
soos 'n woestyn.
Kalwers wei daar,
en daar gaan hulle lê;
hulle verwoes haar lote.
11Wanneer haar takke verdroog het,
sal hulle afgebreek word;
vroue sal kom
en dit aan die brand steek.
Ja, dit is nie 'n verstandige volk nie;
daarom sal hulle Maker
Hom nie oor hulle ontferm nie,
sal die Een wat hulle gevorm het,
geen genade aan hulle
betoon nie.
12 Op daardie dag
sal die Here are uitslaan,
vanaf die stroom van die Rivier
tot by die Spruit van Egipte.
Julle, Israeliete, sal soos are
opgetel word, een vir een.
13 Op daardie dag sal daar
op 'n groot •ramshoring
geblaas word;
en hulle wat verlore is
in die land Assirië,
en verdryf is na Egipteland,
sal kom.
Hulle sal voor die Here
in aanbidding buig
op die heilige berg in Jerusalem.

Tans Gekies:

Jesaja 27: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan