Jesaja 48

48
Vooruitsig op 'n nuwe tydperk
1Luister hierna, huis van Jakob,
wat met die naam Israel
genoem word,
en uit die waters van Juda
voortgekom het,
wat in die Here se Naam
'n eed aflê en hulle op die God
van Israel beroem,
maar nie in waarheid en geregtigheid nie,
2al noem hulle hulleself
na die heilige stad,
en al steun hulle op die God
van Israel –
die Here, Heerser oor alle magte
is sy Naam.
3“ Die vroeëre gebeure het Ek
al lankal aangekondig –
uit my mond het die berig gekom;
Ek het dit bekend gemaak.
Meteens het Ek opgetree,
en dit het gebeur.
4 Omdat Ek weet
dat jy hardnekkig is,
dat jou nek 'n ystersening is
en jou voorkop brons,
5het Ek dit lankal vir jou aangekondig;
voordat dit gebeur het, het Ek
dit aan jou bekend gemaak.
Anders sou jy sê,
‘My afgod het hierdie dinge gedoen,
my afgodsbeeld en my gegote beelde
het dit beveel.’
6Jy het dit gehoor;
aanskou dit dan nou alles!
En julle, sal julle dit
nie bekend maak nie?
“Van nou af maak Ek aan jou
nuwe dinge bekend,
dinge wat verborge is,
waarvan jy nie geweet het nie.
7Nou eers is dit geskep, nie tevore nie;
voor vandag het jy nie daarvan
gehoor nie,
sodat jy nie sou sê,
‘Kyk, ek het dit geweet’ nie.
8 Jy het dit nóg gehoor,
nóg geweet.
Vroeër is jou ore ook nie
oopgemaak nie,
want Ek het geweet dat jy
beslis ontrou gaan wees.
Oortreder van die moederskoot af
word jy genoem.
9 Ter wille van my Naam
hou Ek my toorn terug,
ter wille van die lof wat My toekom,
bedwing Ek Myself –
tot jou voordeel,
en om jou nie uit te roei nie.
10 Kyk, Ek het jou gelouter,
maar nie in 'n silwersmeltoond nie.
Ek het jou getoets
in die smeltkroes van ellende.
11 Ter wille van Myself,
ja, ter wille van Myself
tree Ek op.
Want hoe sou my Naam
nie ontheilig word nie!
En my heerlikheid –
aan geen ander sal Ek dit gee nie.
12 Luister na My, Jakob,
Israel, my geroepene:
Dit is Ek; Ek is die eerste,
Ek is ook die laaste.
13 Dit is ook my hand
wat die aarde gegrondves het,
my regterhand
wat die hemel oopgespan het.
Wanneer Ek na hulle roep,
staan hulle saam gereed.
14“Kom byeen, julle almal,
en luister!
Wie onder hulle het hierdie dinge
aangekondig?
Hy vir wie die Here lief is,
sal die Here se wil
oor Babel voltrek;
sy arm sal dit aan die Galdeërs doen.
15Ek, Ek het gepraat;
Ek het hom ook geroep.
Ek het hom laat kom,
en sy pad sal voorspoedig wees.
16 Kom nader na My toe!
Luister hierna:
Van die begin af het Ek
nie in die geheim gepraat nie,
vanaf die tyd dat dit gebeur het,
is Ek daar.”
En nou het my Heer, die Here,
my gestuur, en ook sy Gees.
17 So sê die Here, jou •losser,
die Heilige van Israel:
“Ek is die Here jou God,
wat jou leer tot jou voordeel,
wat jou lei op die pad
wat jy moet loop.
18 As jy maar net ag sou slaan
op my gebooie,
dan sou jou vrede
soos 'n rivier wees,
jou geregtigheid
soos die golwe van die see;
19 soos die sand
sou jou nageslag wees,
die nakomelinge uit jou liggaam
soos korrels sand.
Dan sou hulle nie uitgeroei word nie,
en hulle naam sou nie uitgedelg word
uit my teenwoordigheid nie.
20“Gaan uit Babel uit,
vlug weg van die Galdeërs!
Kondig dit met jubelkrete aan,
laat hierdie boodskap hoor!
Laat dit uitgaan tot by die einde
van die aarde!
Sê, ‘Die Here het sy dienaar
Jakob losgekoop!
21 Hulle het nie dors geword nie;
deur droë streke
het Hy hulle laat gaan.
Water uit 'n rots het Hy
vir hulle laat vloei.
Hy het 'n rots gekloof,
en water het uitgestroom.’
22 “Daar is geen vrede
vir die goddeloses nie,”
sê die Here.

Tans Gekies:

Jesaja 48: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan