Jesaja 8

8
1 Die Here het vir my gesê: “Vat vir jou 'n groot skryftablet en skryf met 'n gewone griffel daarop: Vinnig-buit-spoedig-roof. 2 Ek wil vir My betroubare getuies oproep, die priester Uria en Sagaria, seun van Jeberegja.”
3Daarna het ek by die profetes ingegaan, en sy het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring. Toe het die Here vir my gesê: “Noem hom Vinnig-buit-spoedig-roof. 4 Want voordat die seun sal weet hoe om te roep ‘Pa!’ en ‘Ma!’ sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaria voor die koning van Assirië uit dra.”
5Die Here het toe weer met my gepraat: 6“Omdat hierdie volk die water van Siloag, wat sag vloei, verwerp het, en gelukkig is met Resin en die seun van Remalja, 7 daarom: Kyk, my Heer gaan die magtige massas water van die Rivier – die koning van Assirië en al sy hoogwaardigheidsbekleërs – oor hulle bring.
“Die rivier sal opstoot
oor al sy stroombeddings,
en stroom oor al sy walle.
8Dit sal Juda binnevloei,
oorspoel en oorstroom,
styg tot teen die nek.
Oor die volle breedte van jou land
sal sy oopgespreide vlerke wees,
Immanuel!
9“ Span saam, volke,
en word verpletterend verslaan!
Gee aandag,
alle ver plekke op aarde!
Omgord julle,
en word verpletterend verslaan!
Omgord julle,
en word verpletterend verslaan!
10Beraam 'n plan,
en dit word verydel!
Bespreek die saak,
en daar kom niks van nie;
want God is met ons!”
11Ja, so het die Here vir my gesê toe Hy met 'n sterk hand my daarteen gewaarsku het om die pad van hierdie volk te loop:
12“ Julle moet nie
alles 'n sameswering noem
wat hierdie volk
'n sameswering noem nie;
en waarvoor hulle bang is,
daarvoor moet julle nie bang
en bevrees wees nie.
13Die Here, Heerser oor alle magte,
Hom moet julle as heilig erken,
en Hy is die Een vir wie julle
bang en bevrees moet wees.
14 Hy sal 'n heiligdom word,
en 'n klip waarteen
'n mens jou stamp,
'n rots waaroor 'n mens struikel;
vir die twee huise van Israel
sal Hy 'n vangnet word,
en 'n valstrik vir die inwoners
van Jerusalem.
15Baie sal daaroor struikel,
en val en gebreek word;
hulle sal verstrik
en gevang word.”
16 Bind die getuienis toe!
Hou die onderrig verseël
by my leerlinge!
17 Ek sal wag op die Here,
wat sy gesig verberg
vir die huis van Jakob;
ek sal op Hom bly hoop.
18 Hier is ek en die kinders wat die Here aan my gegee het as tekens en simbole in Israel, afkomstig van die Here, Heerser oor alle magte, wat op die berg Sion woon. 19 Wanneer hulle vir julle sê, “Raadpleeg die waarsêergeeste en voorvadergeeste wat fluister en mompel – moet 'n volk nie sy gode raadpleeg, die dooies ter wille van die lewendes nie?” 20 moet julle antwoord: “Gaan na die onderrig en die getuienis!” Hulle moet beslis antwoord volgens hierdie uitspraak, waarteen geen beswering bestand is nie.
21 Die volk sal die land deurkruis, bedruk en verhonger. En wanneer hulle honger is, sal hulle woedend word en hulle koning vervloek en, terwyl hulle boontoe kyk, hulle God vervloek. 22 Na die grond sal hulle staar, en kyk, uitgedryf in die duisternis, is daar net benoudheid en donkerheid, angs sonder lig. 23 Ja, daar sal nie 'n ligstraal wees vir hulle wat angs ervaar oor die land nie.
In 'n vroeër tyd
het Hy vernedering gebring
vir die land Sebulon
en die land Naftali.
In die toekoms
bring Hy eer
vir die weg na die see,
oorkant die Jordaan
en die gebied van die nasies.

Tans Gekies:

Jesaja 8: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan