Die embleem van die Bybeltoep
Soek-ikoon

Jakobus 4:1-12

Jakobus 4:1-12 AFR20

Waar kom al die oorloë en gevegte onder julle vandaan? Kom dit nie van julle begeertes, wat in julle ledemate oorlog voer nie? Julle begeer, maar julle besit niks nie; julle pleeg moord, en is vol jaloesie, en julle kan niks bereik nie. Julle veg en maak oorlog, en tog het julle niks, omdat julle nie bid nie. Julle bid en julle ontvang nie, omdat julle op die verkeerde manier vra, sodat julle dit in julle wellus kan deurbring. Egbreeksters! Weet julle dan nie dat vriendskap met die wêreld vyandskap teen God beteken nie? Wie ook al 'n vriend van die wêreld wil wees, maak homself 'n vyand van God. Of dink julle dat die Skrif verniet sê dat God hunker met besitlikheid na die gees wat Hy in ons laat woon het? Maar Hy gee groter genade – daarom sê Hy: “God staan die hoogmoediges teen, maar aan die nederiges gee Hy genade.” Onderwerp julle dus aan God. Weerstaan die Duiwel, dan sal hy van julle wegvlug. Nader tot God, dan sal Hy tot julle nader. Reinig julle hande, sondaars, en suiwer julle harte, dubbelhartiges! Weeklaag en treur en huil! Laat julle lag in droefheid verander, en julle blydskap in somberheid. Verneder julle voor die Here, dan sal Hy julle verhoog. Moenie van mekaar kwaadpraat nie, broers. Wie kwaadpraat van sy broer, of oor sy broer oordeel, praat ook kwaad van die wet en oordeel die wet. As jy die wet oordeel, is jy nie 'n doener van die wet nie, maar 'n regter. Daar is net een Wetgewer en Regter – Hy wat in staat is om te verlos en te vernietig. Maar jy, wie is jy om jou naaste te oordeel?