Rigters 13

13
Simson
1Die Israeliete het weer gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here. Die Here het hulle toe veertig jaar lank oorgegee in die hand van die Filistyne.
2 Daar was 'n sekere man uit Sora, uit 'n familiegroep van Dan; sy naam was Manoag. Sy vrou was onvrugbaar en kon nie kinders kry nie. 3 Die •Engel van die Here het aan die vrou verskyn en vir haar gesê: “Kyk, jy is onvrugbaar en kan nie kinders kry nie, maar jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. 4 Daarom, wees nou versigtig; moenie wyn of sterk drank drink nie en moenie enigiets •onreins eet nie. 5Ja, kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. 'n Skeermes mag nie naby sy kop kom nie, want die seun sal 'n •nasireër van God wees van die moederskoot af. Hy sal begin om Israel te red uit die hand van die Filistyne.”
6Die vrou gaan toe na binne en sê vir haar man: “'n Man van God het na my gekom; en sy voorkoms was soos die voorkoms van die •Engel van God en was vreesaanjaend. Maar ek het hom nie gevra waarvandaan hy is nie; en wat sy naam is, het hy my nie vertel nie. 7Hy het vir my gesê, ‘Kyk, jy gaan swanger word en 'n seun in die wêreld bring. Daarom, moenie wyn of sterk drank drink nie, en moenie enigiets onreins eet nie, want die seun sal 'n nasireër van God wees van die moederskoot af tot die dag van sy dood.’ ” 8Manoag het toe by die Here gepleit en gesê: “Asseblief, my Heer! Die man van God wat U gestuur het, laat hy tog weer 'n keer na ons kom, sodat hy ons kan leer wat ons moet doen met die seun wat gebore gaan word.”
9God het geluister na die versoek van Manoag. Die Engel van God het weer na die vrou gekom terwyl sy in die veld gesit het; maar haar man, Manoag, was nie by haar nie. 10Die vrou hardloop toe vinnig en gaan vertel dit vir haar man. Sy het vir hom gesê: “Kyk, die man wat nou die dag na my gekom het, het aan my verskyn!”
11Daarop staan Manoag op en gaan agter sy vrou aan. Toe hy by die man kom, vra hy vir hom: “Is u die man wat met die vrou gepraat het?” Hy het geantwoord: “Dit is ek.” 12Manoag sê toe: “Mag u woorde dan nou waar word! Watter reëls moet vir die seun geld, en wat is sy taak?” 13Die Engel van die Here het Manoag geantwoord: “Van alles wat Ek vir die vrou genoem het, moet sy haar weerhou. 14 Enigiets wat van die wingerdstok af kom, mag sy nie eet nie. Wyn en sterk drank moet sy nie drink nie. Enigiets wat onrein is, moet sy nie eet nie. Alles wat Ek haar beveel, moet sy nakom.”
15 Manoag sê toe vir die Engel van die Here: “Mag ons U ophou, sodat ons vir U 'n bokkie kan voorberei?” 16Maar die Engel van die Here sê vir Manoag: “As jy My ophou, sal Ek nie van jou kos eet nie; maar as jy 'n •brandoffer wil bring, moet jy dit vir die Here bring.” Manoag het immers nie besef dat dit die Engel van die Here is nie.
17Toe vra Manoag vir die Engel van die Here: “Wat is u naam, dat ons U kan vereer as u woord vervul word?” 18 Die Engel van die Here het hom geantwoord: “Waarom vra jy nou my naam? Dit is iets onbegrypliks.”
19 Manoag neem toe die bokkie en die •graanoffer, en offer dit vir die Here op 'n rots. Die Here het 'n wonder laat gebeur terwyl Manoag en sy vrou toekyk. 20Toe die vlam van die altaar af na die hemelruim opstyg, het die Engel van die Here in die vlam van die altaar opgegaan terwyl Manoag en sy vrou dit sien. Hulle het neergeval met hulle gesigte teen die grond. 21Die Engel van die Here het nie weer aan Manoag en sy vrou verskyn nie.
Toe besef Manoag dat dit die Engel van die Here was. 22 Manoag het vir sy vrou gesê: “Ons sal beslis sterf, want ons het God gesien.” 23Maar sy vrou het vir hom gesê: “As die Here ons wou laat sterf, sou Hy nie uit ons hand 'n brandoffer en graanoffer aanvaar het nie. Hy sou ons nie al hierdie dinge laat ervaar het nie, en Hy sou nie juis nou aan ons so iets bekend gemaak het nie.”
24Die vrou het toe 'n seun in die wêreld gebring en hom Simson genoem. Die seun het grootgeword en die Here het hom geseën. 25Die Gees van die Here het hom begin aanvuur by Magane-Dan, tussen Sora en Estaol.

Tans Gekies:

Rigters 13: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan