21
Vroue vir die Benjaminiete
1Die manne van Israel het in Mispa 'n eed afgelê: “Nie een van ons sal sy dogter vir iemand uit Benjamin as vrou gee nie.” 2 Toe die volk by Bet-El aankom, het hulle daar tot die aand toe in God se teenwoordigheid gesit. Hulle het hardop en bitterlik gehuil. 3Hulle het gesê: “Waarom, Here, God van Israel, het dit in Israel gebeur, dat daar vandag in Israel een stam ontbreek?” 4Die volgende dag het die manskappe vroeg opgestaan en daar 'n altaar gebou en •brandoffers en •maaltydoffers gebring. 5 Die Israeliete het gesê: “Wie is daar uit al die stamme van Israel wat nie opgetrek het na die saamtrek, na die Here nie?” Want hulle het 'n plegtige eed afgelê teen elkeen wat nie optrek na die Here in Mispa nie. Hulle het gesê: “So iemand moet beslis sterf.”
6Die Israeliete het Benjamin, hulle broer, jammer gekry en gesê: “Vandag is daar een stam uit Israel weggesny. 7Wat kan ons, wat vroue betref, doen vir hulle, vir dié wat oorgebly het? Ons het self by die Here 'n eed afgelê dat ons nie van ons dogters vir hulle as vroue sal gee nie.”
8Hulle sê toe: “Watter een van die stamme van Israel het nie opgetrek na die Here in Mispa nie?” Kyk, niemand uit Jabes in Gilead het na die kamp, na die saamtrek, gekom nie. 9Die manskappe is toe nagegaan, en sowaar, niemand van die inwoners van Jabes in Gilead was daar nie. 10Die volksvergadering stuur toe twaalfduisend man, van die kranigste manne, daarheen met die opdrag: “Gaan en verslaan die inwoners van Jabes in Gilead met die skerpte van die swaard, ook die vroue en kinders. 11 Dit is wat julle moet doen: Elke man moet julle met die banvloek tref, en ook elke vrou wat met 'n man gemeenskap gehad het.”
12Hulle het toe onder die inwoners van Jabes in Gilead vierhonderd jongmeisies gevind, maagde, wat nie met 'n man gemeenskap gehad het nie. Hulle het hulle na die kamp by Silo, wat in die land Kanaän is, gebring. 13Die hele volksvergadering het toe boodskappers gestuur om met die Benjaminiete wat by die Rimmonrots was, te praat en met hulle vrede te sluit. 14Benjamin het toe in dié tyd teruggekeer, en die vroue wat hulle laat lewe het onder die vroue van Jabes in Gilead, is aan hulle as vroue gegee. Maar op dié wyse kon hulle nie genoeg vroue vir hulle kry nie.
15Die mense het Benjamin jammer gekry, omdat die Here 'n skeuring veroorsaak het tussen die stamme van Israel. 16Die oudstes van die volksvergadering het gesê: “Wat kan ons doen, wat vroue betref, vir dié wat oorgebly het? Want vroue is uit Benjamin uitgedelg.” 17Hulle sê toe: “Daar moet erfgename wees vir dié van Benjamin wat ontkom het. 'n Stam mag nie uit Israel uitgewis word nie. 18Ons kan egter nie self vir hulle uit ons dogters vroue gee nie; want die Israeliete het 'n eed afgelê met die woorde, ‘Vervloek is hy wat 'n vrou vir iemand uit Benjamin gee.’ ”
19Toe sê hulle: “Kyk, daar is elke jaar die fees van die Here in Silo.” Dit lê noord van Bet-El, en suid van Lebona aan die oostekant van die pad wat van Bet-El af opgaan na Sigem. 20Hulle beveel toe die Benjaminiete: “Gaan kruip weg in die wingerde, 21en wees op die uitkyk. Die oomblik wanneer die meisies van Silo uitkom om kringdanse te doen, moet julle uit die wingerde kom en elkeen moet vir hom 'n vrou ontvoer uit die meisies van Silo. Dan moet julle na die land van Benjamin gaan. 22As hulle pa's of broers kom om by ons beswaar aan te teken, sal ons vir hulle sê, ‘Wees die Benjaminiete om ons onthalwe genadig, want nie elkeen van ons het gedurende die oorlog vir hom 'n vrou geneem nie. En julle het nie self die meisies aan hulle gegee nie. Net in só 'n geval sou julle skuldig wees.’ ”
23Die Benjaminiete het toe so gemaak. Hulle het, volgens hulle getal, vroue weggedra uit die dansers wat hulle gegryp het. Daarna het hulle weggegaan en teruggekeer na hulle erfdeel. Hulle het die stede herbou en daarin gewoon.
24In daardie tyd het die Israeliete daarvandaan uiteengegaan, elkeen na sy stam en sy familiegroep, en van daar af het elkeen van hulle weer na sy erfdeel gegaan.
25In daardie tyd was daar geen koning in Israel nie; elkeen het gedoen wat reg was in sy eie oë.