Jeremia 11

11
Verbreking van die verbond
1 Dit is die woord wat van die Here tot Jeremia gekom het: 2“Luister na die woorde van hierdie verbond, en praat met die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. 3 Sê vir hulle, ‘So sê die Here, die God van Israel: “Vervloek is die mens wat nie luister na die woorde van hierdie verbond nie, 4dit wat Ek julle voorouers beveel het op die dag toe Ek hulle uit Egipteland, uit die ystersmeltoond, uitgelei het met die woorde, ‘Luister na my stem en tree op ooreenkomstig alles wat Ek julle beveel. Julle sal dan my volk wees, en Ek sal julle God wees, 5 sodat Ek die eed gestand kan doen wat Ek vir julle voorouers afgelê het – om vir hulle 'n land te gee wat oorloop van melk en heuning, soos dit vandag is.’ ” ’ ”
Ek het daarop geantwoord en gesê: “•Amen, Here!
6Die Here het vir my gesê: “Roep al hierdie woorde uit in die dorpe van Juda en in die strate van Jerusalem, ‘Luister na die woorde van hierdie verbond en voer dit uit! 7 Want Ek het julle voorouers uitdruklik gewaarsku, vanaf die dag toe Ek hulle uit Egipteland laat optrek het, tot vandag toe. Ek het hulle aanhoudend gewaarsku met die woorde: “Luister na my stem!” 8Maar hulle het nie geluister nie, en nie hulle ore oopgemaak nie. Elkeen van hulle het die verstoktheid van sy bose hart bly volg. Toe het Ek al die vervloekings van hierdie verbond wat Ek hulle beveel het om uit te voer, maar wat hulle nie uitgevoer het nie, oor hulle gebring.’ ”
9Die Here sê toe vir my: “Daar is 'n sameswering ontdek by die manne van Juda en die inwoners van Jerusalem. 10Hulle het teruggekeer na die sondeskuld van hulle eerste voorouers, wat geweier het om na my woorde te luister; dit is hulle wat agter ander gode aangeloop het om dié te dien. Die huis van Israel en die huis van Juda het my verbond verbreek wat Ek met hulle voorouers gesluit het.”
11Daarom, so sê die Here: “Kyk, Ek gaan oor hulle teenspoed bring waaraan hulle nie sal kan ontsnap nie. Hulle sal na My roep om hulp, maar Ek sal nie na hulle luister nie. 12Die dorpe van Juda en die inwoners van Jerusalem sal dan gaan en om hulp roep na die gode vir wie hulle offers verbrand het, maar die gode sal hulle geensins kan verlos in die tyd van hulle teenspoed nie. 13Ja, net soveel dorpe as wat jy het, net soveel het jou gode geword, Juda. En net soveel strate as wat Jerusalem het, soveel is die altare wat julle opgerig het vir die skandelike afgod – altare om vir Baäl offers te verbrand. 14 En jy, jy moenie vir hierdie volk bid nie; moenie vir hulle 'n klaagroep, 'n gebed opstuur nie, want Ek luister nie wanneer hulle na My roep vanweë die ramp wat hulle tref nie.
15 “Watter reg het my beminde in my huis
om 'n bose plan te smee?
Kan geloftes en heilige offervleis
jou vrywaar van teenspoed?
Dan kon jy uitgelate wees!”
16“Skaduryke olyfboom
met mooi gevormde vrugte,”
het die Here jou genoem.
Maar te midde van 'n groot gedruis
sal Hy dit aan die brand steek,
en sy lower sal onbruikbaar wees.
17Die Here, Heerser oor alle magte, wat jou geplant het, het 'n ramp oor jou aangekondig weens die boosheid van die huis van Israel en die huis van Juda, die boosheid wat hulle gepleeg het om My te tart, deur vir Baäl offers te verbrand.
Jeremia se treurlied oor die sameswering
18Die Here self het my ingelig, sodat ek kon weet. Toe het U my laat sien waarmee hulle besig is. 19Ek was soos 'n mak lam wat weggelei word om geslag te word. Ek het nie geweet dat dit teen my is wat hulle planne beraam nie:
“Laat ons die boom
en sy lewensap vernietig;
laat ons hom afsny van die land
van die lewendes,
sodat sy naam nie meer
onthou word nie.”
20 Maar Here, Heerser oor alle magte,
regverdige Regter
wat hart en niere toets,
laat ek u wraak op hulle sien,
want aan U het ek my regsaak toevertrou.
21 Daarom, so sê die Here oor die manne van Anatot wat jou lewe soek en sê, “Jy mag nie profeteer in die Naam van die Here nie, sodat jy nie deur ons hand sterf nie,” 22ja, so sê die Here, Heerser oor alle magte: “Kyk, Ek gaan van hulle rekenskap eis: Die jong manne sal sterf deur die swaard; hulle seuns en hulle dogters sal sterf van honger. 23 Daar sal vir hulle niemand oorbly nie, want Ek bring onheil oor die manne van Anatot in die jaar waarin daar van hulle rekenskap geëis word.”

Tans Gekies:

Jeremia 11: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan