Jeremia 13:12-27

Jeremia 13:12-27 AFR20

“Sê dan vir hulle hierdie woorde, ‘So sê die HERE, die God van Israel: “Elke kruik moet met wyn gevul word.” ’ Hulle sal vir jou sê, ‘Weet ons dan nie baie goed dat elke kruik met wyn gevul moet word nie?’ Dan moet jy hulle antwoord, ‘So sê die HERE: “Kyk, Ek gaan al die inwoners van hierdie land, en die konings wat as nageslag van Dawid op sy troon sal sit, en die priesters en die profete, en al die inwoners van Jerusalem vul met dronkenskap. Ek sal hulle stukkend stamp, die een teen die ander, vaders en kinders saam,” ’ ” is die uitspraak van die HERE. “ ‘ “Ek sal geen deernis hê nie, hulle nie jammer kry of My oor hulle ontferm deur hulle nie te vernietig nie.” ’ ” Luister, gee aandag! Moenie hovaardig wees nie, want die HERE praat. Bewys eer aan die HERE julle God, voordat Hy dit donker maak, voordat julle oor julle eie voete val in die skemerte op die berge. Julle sal wag op lig, maar Hy sal dit stikdonker laat word; Hy sal dit 'n diepe duisternis maak. Maar as julle nie hierna luister nie, sal ek in geheime plekke uit my hart huil oor julle hoogmoed. My oë sal bitterlik ween, en wegvloei in trane, omdat die kudde van die HERE gevange geneem sal word. Sê vir die koning en die koninginmoeder: “Gaan sit op die grond, want julle sierlike krone het van julle koppe afgekom. Die dorpe van die Negev is oorgelewer, en niemand kan hulle bevry nie; Juda in sy geheel is weggevoer in ballingskap – volledig weggevoer. Kyk goed, Jerusalem! Sien hulle wat uit die noorde kom raak! Waar is die kudde wat aan jou gegee is, jou pragtige kleinvee? Wat sal jy sê as die vyand mense oor jou aanstel wat jy self geleer het – stamhoofde as gesagvoerders oor jou? Sal pyne jou nie beetpak soos vir 'n vrou wat geboorte gee nie? Jy sal in jou hart sê: Waarom het hierdie dinge my oorgekom? Dit is oor jou groot sondeskuld dat jou kleed se some opgelig, jou hakskene geweld aangedoen is. Kan 'n Kussiet sy velkleur verander of 'n luiperd sy vlekke? Dan sou ook julle in staat wees om goed te doen, julle wat gewoond is om kwaad te doen. “ Ek sal julle verstrooi soos kaf wat weggewaai word deur 'n woestynwind. Dit is jou lot, die deel wat Ek vir jou afgemeet het,” is die uitspraak van die HERE, “omdat jy My vergeet het en op leuens vertrou het. Ja, op my beurt sal Ek jou kleed se some oplig tot oor jou gesig, sodat jou skaamte gesien word. O, jou owerspel, jou gerunnik, jou skandalige hoerery! Op die heuwels in die veld, het Ek jou verfoeilike dade gesien. Wee jou, Jerusalem! Jy sal nie rein word nie. Hoe lank sal dit nog duur?”

Gratis leesplanne en oordenkings oor Jeremia 13:12-27