Johannes 7

7
Ongeloof van Jesus se broers
1Hierna het Jesus in Galilea rondgegaan. Hy wou nie in Judea rondgaan nie, omdat die Jode Hom wou doodmaak. 2 En die Huttefees van die Jode was op hande. 3Sy broers het toe vir Hom gesê: “Vertrek hiervandaan en gaan na Judea, sodat jou dissipels ook die dade wat jy verrig, kan sien. 4Want niemand doen iets in die geheim en wil dan tog in die openbaar bekend wees nie. Indien jy hierdie dinge wil doen, maak dan jouself aan die wêreld bekend.” 5Trouens, selfs sy broers het nie in Hom geglo nie. 6Jesus sê toe vir hulle: “My bestemde tyd is nog nie hier nie, maar julle tyd is altyd op hande. 7Die wêreld kan julle nie haat nie, maar hy haat My, omdat Ek van hom getuig dat sy dade boos is. 8Gaan julle op na die fees. Ek gaan nie op na hierdie fees nie, omdat my tyd nog nie aangebreek het nie.” 9Nadat Hy dit gesê het, het Hy in Galilea gebly.
Jesus se onderrig by die Huttefees
10Maar nadat sy broers na die fees opgegaan het, het Hy toe ook opgegaan – nie openlik nie, maar in die geheim. 11 Die Jode het toe op die fees na Hom gesoek en gesê: “Waar is daardie man?” 12En daar was 'n groot geredekawel oor Hom onder die skare. Sommige het gesê: “Hy is 'n goeie mens.” Ander het weer gesê: “Nee, maar hy mislei die skare.” 13Tog het niemand openlik oor Hom gepraat nie, uit vrees vir die Jode.
14Toe die fees reeds halfpad verby was, het Jesus na die tempelterrein opgegaan en begin onderrig gee. 15 Die Jode was verwonderd en het gesê: “Hoe ken hy die Skrifte sonder dat hy dit bestudeer het?” 16 Jesus antwoord hulle toe: “Wat Ek leer, is nie my eie nie, maar kom van Hom wat My gestuur het. 17As iemand bereid is om sy wil te doen, sal hy, wat hierdie leer betref, weet of dit van God is en of Ek uit my eie praat. 18Hy wat uit sy eie praat, soek sy eie eer, maar Hy wat die eer soek van die Een wat Hom gestuur het – Hy is geloofwaardig en daar is geen onreg in Hom nie. 19Het Moses nie vir julle die wet gegee nie? En nie een van julle voer die wet uit nie. Waarom probeer julle My dan doodmaak? ” 20Die skare het geantwoord: “Jy het 'n demoon! Wie probeer jou doodmaak?” 21 Jesus het hulle geantwoord: “Een daad het Ek gedoen, en julle is almal verbaas. 22Omdat Moses vir julle die besnydenis gegee het – nie dat dit van Moses kom nie, maar van die vaders – besny julle iemand ook op die Sabbat. 23As iemand op die Sabbat die besnydenis ontvang, sodat die •Wet van Moses nie verbreek word nie, is julle dan vir My kwaad omdat Ek op die Sabbat 'n mens in sy geheel gesond gemaak het? 24Moenie op die oog af oordeel nie, maar oordeel regverdig. ”
Wie Jesus is
25Daarop het sommige van Jerusalem se inwoners gesê: “Is hy nie die een wat hulle wil doodmaak nie? 26Kyk nou, hy praat openlik, en hulle sê niks teen hom nie. Die volksleiers het tog nie regtig ingesien dat hy die Christus is nie? 27 Hierdie man – ons weet tog waar hy vandaan kom; maar wanneer die Christus kom, weet niemand waarvandaan Hy is nie.” 28Jesus het toe, terwyl Hy op die tempelterrein onderrig gee, uitgeroep en gesê: “Julle ken My, en julle weet ook waar Ek vandaan kom. Tog het Ek nie uit my eie gekom nie, maar Hy wat My gestuur het, vir wie julle nie ken nie, is geloofwaardig. 29Ek ken Hom, omdat Ek van Hom af kom en Hy My gestuur het.” 30 Hulle wou Hom arresteer; tog het niemand 'n hand op Hom gelê nie, omdat sy uur nog nie aangebreek het nie. 31Maar baie uit die skare het in Hom begin glo en gesê: “Wanneer die Christus kom, sal Hy tog seker nie meer tekens doen as wat hierdie man gedoen het nie?”
Opdrag aan die tempelwag
32Die •Fariseërs het gehoor dat die skare hierdie dinge onderlangs oor Hom fluister, en hulle en die leierpriesters het die tempelwag gestuur om Hom te arresteer. 33Daarop het Jesus gesê: “Nog net 'n kort tydjie is Ek by julle, en dan gaan Ek na Hom wat My gestuur het. 34 Julle sal My soek en My nie vind nie, en waar Ek is, kan julle nie kom nie. ” 35Toe het die Jode onder mekaar gesê: “Waarheen is hy van plan om te gaan dat ons hom nie sal vind nie? Hy is tog nie van plan om na die Diaspora onder die Grieke te gaan en die Grieke te leer nie? 36Wat beteken hierdie uitspraak wat hy gemaak het, ‘Julle sal My soek en My nie vind nie; en waar Ek is, kan julle nie kom nie?’ ”
Belofte van lewende water
37En op die laaste dag, die groot dag van die fees, het Jesus gaan staan en uitgeroep: “As iemand dors het, laat hy na My kom, en drink! 38Hy wat in My glo, soos wat die Skrif sê, ‘Strome lewende water sal uit sy binneste vloei.’ ” 39 Dit het Hy van die Gees gesê wat dié wat in Hom glo, sou ontvang. Die Gees was immers nog nie daar nie, omdat Jesus nog nie verheerlik was nie.
Meningsverskil oor Jesus
40Sommige uit die skare wat hierdie woorde gehoor het, het toe gesê: “Hy is waarlik die Profeet.” 41Ander het gesê: “Hy is die Christus.” Nog ander het gesê: “Die Christus kom tog nie uit Galilea nie? 42Het die Skrif nie gesê die Christus is uit die nageslag van Dawid en kom uit Betlehem, die tuisdorp van Dawid nie?” 43 Daar het toe oor Hom verdeeldheid onder die skare gekom. 44 En sommige van hulle wou Hom arresteer, maar niemand het 'n hand op Hom gelê nie.
Ongeloof van die Joodse leiers
45Toe het die tempelwag teruggegaan na die leierpriesters en •Fariseërs, en dié het vir hulle gevra: “Waarom het julle hom nie gebring nie?” 46Die tempelwag het geantwoord: “Nog nooit het 'n mens só gepraat nie.” 47Die Fariseërs sê toe vir hulle: “Julle is tog nie ook mislei nie? 48 Nie een van die leierpriesters of van die Fariseërs het tog in hom geglo nie? 49Maar hierdie spul wat die wet nie ken nie, vervloek is hulle!” 50 Nikodemus, die een wat voorheen na Hom gekom het, en een uit hulle geledere, sê toe vir hulle: 51 “Ons wet oordeel tog nie 'n persoon tensy hy eers aangehoor is en daar verneem is wat hy doen nie?” 52Hulle het hom geantwoord: “Jy is tog nie ook uit Galilea nie? Gaan dit maar na, jy sal sien: Geen profeet is afkomstig uit Galilea nie! ”
Die owerspelige vrou
53 Elkeen het na sy eie huis teruggekeer,

Tans Gekies:

Johannes 7: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan