30
1 Maar nou lag hulle my uit,
hulle wat in lewensdae jonger is as ek,
hulle wie se pa's
ek te onwaardig geag het
om hulle by die honde
van my kleinvee toe te laat.
2Boonop, wat sou die krag
van hulle hande my baat,
as hulle lewenskrag daarmee heen is?
3 Deur gebrek en honger weggeteer,
is hulle mense wat die dor land,
die wildernis en woesteny
die vorige nag nog kaalgestroop het,
4 hulle wat die souterige blare van struike pluk;
die wortels van witbesembosse
is hulle brood.
5Uit die gemeenskap is hulle verdryf,
op hulle word geskree asof hulle diewe is.
6 In die walle van spruite
moet hulle woon,
in gate in die grond en rotse.
7Tussen die struikgewas bulk hulle,
onder brandnetels bondel hulle saam.
8As dwase, ja, naamlose mense,
word hulle uit die land verjaag.
9“ En nou het ek hulle spotlied geword;
ek het vir hulle 'n spreuk geword.
10Hulle vind my afstootlik;
hulle bly ver van my af,
maar aarsel nie om my in my gesig te spoeg nie.
11“ Omdat God my boogsnaar
losgemaak en my verneder het,
het hulle vrye teuels
in my teenwoordigheid.
12 Aan my regterkant
maak die jong gespuis gereed;
hulle dwing my in 'n rigting,
hulle vul hulle beleëringswalle
teen my op.
13Hulle breek my pad op,
en trek voordeel uit my vernietiging;
hulle sê, ‘Hy het nie 'n helper nie.’
14Asof deur 'n breë bres kom hulle aan;
onder 'n donderstorm kom hulle aangerol.
15Verskrikkinge word op my losgelaat;
asof deur 'n windvlaag
word my waardigheid verdryf,
soos 'n wolk gaan my redding verby.
16 Daarom stort my siel hom uit in my;
dae van terneergedruktheid pak my beet.
17Die nag grawe my gebeente uit my uit,
my knaende pyne kom nie tot rus nie.
18Met geweldige krag gryp Hy my bokleed;
soos die opening in my kleed wurg Hy my.
19Hy het my in die modder gegooi;
ek het soos stof en as geword.
20“Ek roep na U,
maar U antwoord my nie;
ek staan daar,
en U kyk net na my.
21U het wreed geword teenoor my;
met u magtige hand
behandel U my soos 'n vyand.
22U tel my op die wind
en laat my wegdryf;
die stormwind waai my uitmekaar.
23Ja, ek weet, na die dood
laat U my omdraai,
die ontmoetingsplek
vir almal wat leef.
24Mens lig tog nie 'n hand teen 'n puinhoop
as hy in sy rampspoed om hulp roep nie?
25 Het ek nie gehuil oor dié
wat moeilike tye beleef nie?
Was my hart nie treurig
oor behoeftiges nie?
26 Ja, op die goeie het ek gehoop,
maar die slegte het gekom;
op lig het ek gewag,
maar donker het gekom.
27My binneste is in beroering,
dit kom nie tot rus nie;
dae van terneergedruktheid
sak op my toe.
28Met 'n donker gelaat loop ek rond,
maar nie as gevolg van hitte nie;
ek staan in die byeenkoms op
en roep aanhoudend om hulp.
29'n Broer van jakkalse het ek geword,
'n vriend van steenuile.
30 My vel het swart geword
en dop af,
my gebeente gloei van koors.
31 My lier het 'n rouklag geword,
my fluit die stem van huilendes.