Job 39

39
1 “Kan jy vir 'n leeuwyfie prooi jag,
die honger van jong leeus bevredig
2wanneer hulle in lêplekke hurk,
onder 'n blaredak gereed sit
vir die hinderlaag?
3 Wie voorsien aan die kraai sy kos
wanneer sy kuikens aanhoudend
na God roep,
ronddwaal sonder kos?
4 “Ken jy die tyd wanneer
klipbokke lam?
Het jy dit al aanskou wanneer
rooitakbokooie lammers voortbring?
5Tel jy die maande
wat hulle dragtig is;
ken jy die tyd wanneer hulle lam?
6Hulle hurk en bring
hulle lammers voort;
hulle laat hulle ongebore nageslag vry.
7Hulle lammers word sterk,
groei op in die oop veld,
gaan weg en kom nie weer
na hulle terug nie.
8“ Wie het die wildedonkie
vry laat rondloop?
Die stroppe van die wilde-esel,
wie het dit losgemaak,
9die een vir wie Ek die Araba
as sy tuiste bestem het,
en brak grond as sy verblyfplekke?
10Hy lag vir die rumoer van die stad;
die geskreeu van 'n drywer hoor hy nie.
11Hy verken die berge vir weiding;
hy soek alles wat groen is.
12“Sal die buffel instem om vir jou te werk,
of sal hy by jou voerkrip oornag?
13Kan jy 'n buffel bind
aan 'n ploegvoor met sy leiriem,
of sal hy die leegtes
wat agter jou lê, eg?
14Kan jy hom vertrou,
terwyl sy krag so groot is,
of aan hom jou swaar
verdiende oes oorlaat?
15Vertrou jy hom dat hy
sal terugkom met jou graan,
en dit op jou dorsvloer
sal bymekaarmaak?
16“ Die vlerke van 'n volstruiswyfie klap uitgelate.
Is die penvere van haar vlerke
dié van 'n ooievaar of kleinvalk?
17Want sy los haar eiers op die grond,
en in die stof hou sy dit warm.
18Sy vergeet dat 'n voet
dit kan stukkend trap,
dat 'n wilde dier dit kan breek.
19Sy behandel haar kuikens sleg,
asof hulle nie haar eie is nie;
oor haar vergeefse moeite,
is sy nie ontsteld nie.
20Want God het haar van wysheid laat vergeet,
haar nie met insig bedeel nie.
21Maar sodra sy opspring,
lag sy vir die perd en sy ruiter.
22“Gee jy vir die perd krag,
klee jy sy nek met maanhare?
23Laat jy hom tril soos treksprinkane?
Sy trotse geproes is 'n verskrikking.
24Hy kap die grond met geweld
en is opgewonde oor sy krag.
Hy gaan uit, die stryd tegemoet.
25Hy lag vir vrees
en raak nie verskrik nie;
hy draai nie om vir die swaard nie.
26Langs hom ratel die pylkoker,
die lem van 'n vegspies en 'n kromswaard.
27Onstuimig jaag hy met 'n gedruis
'n stuk aarde af;
hy staan nie stil wanneer
die •ramshoring opklink nie.
28Met elke skal van die ramshoring
sê hy, ‘Aha!’
en van ver af ruik hy die geveg –
die gebulder van bevelvoerders
en die krygsgeskreeu.
29“ Is dit aan jou insig te danke
dat die kleinvalk sweef,
sy vlerke in die suidewind oopsprei?
30Of is dit op jou bevel
dat die arend so hoog opstyg,
en sy nes so hoog bou?
31'n Rots bewoon hy,
en hy bring die nag daar deur –
op 'n rotspunt en 'n bergvesting.
32Van daar is hy op die uitkyk vir kos,
in die verte tuur sy oë.
33 Sy kuikens slurp bloed op,
waar gesneuweldes is, daar is hy.”
34 Die Here het Job geantwoord en gesê:
35“ Wil die een wat vermaan,
met die Almagtige
'n regstryd voer?
Laat hy wat God wil teregwys,
hierop antwoord.”
36 Job het die Here geantwoord; hy het gesê:
37“ Kyk, ek is te onbelangrik –
wat sou ek U antwoord?
My hand lê ek op my mond.
38 Een keer het ek gepraat,
maar ek sal nie weer reageer nie –
ook 'n tweede keer,
maar ek sal nie weer nie.”

Tans Gekies:

Job 39: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan