42
Job se antwoord aan die Here
1 Job het die Here geantwoord; hy het gesê:
2“ Ek weet dat U alles kan vermag,
dat geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.
3 Wie is die een wat 'n plan verberg,
terwyl hy geen kennis het nie?
Daarom het ek, sonder begrip,
ja, sonder kennis, my mening gegee
oor dinge wat vir my te wonderbaar is.
4Luister, en ek sal praat!
U het gesê,
‘Ek sal jou ondervra,
lig jy My dan in!’
5Op hoorsê het ek van U verneem,
maar nou het my oog U gesien.
6 Daarom herroep ek dit,
en het ek berou –
in stof en as.”
Naskrif
7Nadat die Here hierdie woorde vir Job gesê het, het die Here vir Elifas uit Teman gesê: “My toorn het ontbrand teen jou en jou twee vriende; want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie. 8 Neem dan nou vir julle sewe bulle en sewe ramme, gaan na my dienskneg Job, en bring ter wille van julleself 'n •brandoffer. My dienskneg Job moet vir julle bid, dat Ek julle nie iets onbehoorliks aandoen nie. Ek sal net teenoor hóm goedgesind wees, want julle het nie, soos my dienskneg Job, gesê wat reg is oor My nie.” 9Elifas uit Teman, Bildad uit Suag, en Sofar uit Naäma, het toe gegaan en gedoen wat die Here vir hulle gesê het, en die Here was Job goedgesind.
10 Die Here het Job se lot verander toe hy vir sy vriende gebid het. Die Here het alles wat Job besit het, vermeerder – dubbeld soveel. 11 Al sy broers en susters en al sy vorige kennisse het na hom gekom en saam met hom in sy huis brood geëet. Hulle het met hom meegevoel betuig en hom getroos oor al die onheil wat die Here oor hom laat kom het. Elkeen van hulle het vir hom een kesita en een goue ring gegee.
12 Die Here het die einde van Job meer geseën as sy begin. Hy het veertienduisend stuks kleinvee, sesduisend kamele, 'n duisend pare beeste en 'n duisend donkiemerries besit. 13 Hy het ook sewe seuns en drie dogters gehad. 14Job het die eerste dogter Jemima genoem, die tweede Kesia en die derde Keren-Happoeg. 15In die hele land kon daar nie vroue so mooi soos Job se dogters gevind word nie. Hulle vader het aan hulle 'n erfdeel saam met hulle broers gegee.
16Job het daarna honderd-en-veertig jaar lank geleef. Hy het sy kinders en sy kinders se nageslag gesien – vier geslagte. 17Job het gesterf, oud en versadig van lewensdae.