Josua 23

23
Josua se afskeid
1Lank daarna, nadat die Here aan Israel rus gegee het van al hulle vyande rondom hulle, toe Josua al oud en gevorderd in jare was, 2het Josua die hele Israel ontbied – hulle oudstes, hoofde, regters en opsieners – en vir hulle gesê: “Ek is oud en gevorderd in jare. 3Julle het self alles gesien wat die Here julle God gedoen het aan al hierdie nasies, ter wille van julle. Die Here julle God, Hy is immers die Een wat vir julle geveg het. 4 Kyk, ek het die land van hierdie nasies wat oorgebly het en van al die nasies wat Ek uitgeroei het, as erfdeel aan julle stamme laat toeval, van die Jordaan af tot by die Groot See in die weste. 5Die Here julle God, Hy sal hulle voor julle wegstoot en hulle voor julle verdryf, sodat julle hulle land in besit kan neem, soos die Here julle God julle beloof het. 6 Wees baie vasberade om alles wat geskryf staan in die •boekrol met die Wet van Moses noukeurig na te kom, om nie links of regs daarvan af te wyk nie, 7om nie met hierdie nasies wat by julle oorgebly het, om te gaan nie. Die name van hulle gode mag julle nie aanroep nie en nie daarby sweer nie. Julle mag hulle nie dien nie, en nie voor hulle in aanbidding buig nie. 8 Maar aan die Here julle God moet julle vashou, soos julle tot vandag toe gedoen het. 9Die Here het groot en sterk nasies voor julle verdryf. Wat julle betref, tot vandag toe kon niemand voor julle staande bly nie. 10 Net een van julle jaag 'n duisend op loop; want die Here julle God, Hy is die Een wat vir julle veg soos Hy julle beloof het. 11Wees uiters versigtig om ter wille van julleself net die Here julle God lief te hê. 12 Want as julle ooit wegdraai en julle verbind met die res van hierdie nasies wat by julle oorgebly het, met hulle ondertrou, julle met hulle omgaan en hulle met julle, 13 weet dan vir seker dat die Here julle God hierdie nasies nie langer voor julle sal verdryf nie. Hulle sal vir julle 'n vangnet en 'n valstrik word, 'n sweep vir julle sye en dorings in julle oë, totdat julle verdwyn van hierdie goeie grond af wat die Here julle God vir julle gegee het. 14Kyk, ek loop vandag die pad van almal op aarde. Erken met julle hele hart en julle hele wese dat nie een woord van al die goeie beloftes wat die Here julle God teenoor julle uitgespreek het, onvervuld gebly het nie; alles is vir julle vervul, nie een woord daarvan het onvervuld gebly nie. 15 Soos elke goeie belofte wat die Here julle God aan julle gemaak het, vir julle vervul is, so sal die Here elke woord van onheil oor julle vervul, totdat Hy julle uitgedelg het van hierdie goeie grond af wat die Here julle God vir julle gegee het. 16Wanneer julle die verbond van die Here julle God oortree, wat Hy julle beveel het, en ander gode gaan dien en voor hulle in aanbidding buig, sal die toorn van die Here teen julle ontbrand, en julle sal vinnig verdwyn van die goeie land af wat Hy vir julle gegee het.”

Tans Gekies:

Josua 23: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan