Levitikus 20:1-9
Levitikus 20:1-9 AFR20
Die HERE het met Moses gepraat en gesê: “ Vir die Israeliete moet jy sê, ‘Enigiemand onder die Israeliete en onder die •vreemdelinge met tydelike verblyf in Israel wat van sy nageslag aan Moleg afstaan, moet beslis sterf. Die volk van die land moet hom met klippe doodgooi; anders sal Ek self teen daardie man draai en hom uit die midde van sy volk verwyder, omdat hy van sy nageslag afgestaan het aan Moleg om so my heiligdom te verontreinig en my heilige Naam te ontheilig. Ja, as die volk van die land hulle oë dig sluit vir daardie man en hom nie doodmaak wanneer hy van sy nageslag aan Moleg afstaan nie, sal Ek My teen daardie man en sy familie rig, en Ek sal hom en almal wat agter hom aan hoereer en sodoende agter Moleg aan hoereer, verwyder uit die midde van hulle volk. “ ‘ En iemand wat hom wend tot waarsêergeeste en voorvadergeeste om agter hulle aan te hoereer – Ek sal teen so iemand draai en hom uit die midde van sy volk verwyder. “ ‘ Sorg dat julle heilig bly; wees heilig, want Ek, die HERE, is julle God. Julle moet my vaste voorskrifte nakom en dit uitvoer. Ek is die HERE wat julle heilig maak. “ ‘ As daar enigiemand is wat sy vader en sy moeder vervloek, moet hy beslis sterf. Hy het sy vader en sy moeder vervloek, sy bloedskuld is op hom.

