Lukas 18

18
Gelykenis van die weduwee en die regter
1Hy het vir hulle 'n gelykenis vertel oor hoe nodig dit is om altyd te bid en nie moed te verloor nie. 2Hy het gesê: “Daar was 'n sekere regter in 'n bepaalde stad, wat nie ontsag vir God gehad het nie en hom aan geen mens gesteur het nie. 3 Daar was ook 'n weduwee in daardie stad, wat hom bly opsoek het met die versoek, ‘Laat reg aan my geskied in my saak teen my opponent.’ 4'n Tyd lank wou hy nie, maar naderhand het hy by homself gedink: Al het ek geen ontsag vir God en steur ek my aan geen mens nie, 5 sal ek, omdat hierdie weduwee my moeite gee, tog maar reg aan haar laat geskied; anders gaan sy my tot aan die einde bly teister.” 6Toe sê die Here: “Luister na wat die onregverdige regter sê! 7Sal God dan nie reg laat geskied aan sy uitverkorenes wat bedags en snags na Hom roep nie? Sal Hy hulle lank laat wag? 8Ek sê vir julle, Hy sal baie gou aan hulle reg laat geskied. Die vraag is net: Sal die •Seun van die Mens, wanneer Hy kom, geloof op aarde vind?”
Gelykenis van die Fariseër en die tollenaar
9Met die oog op sommige mense wat oortuig was van hulle eie regverdigheid en op ander neergesien het, het Jesus hierdie gelykenis vertel: 10“Twee mense het opgegaan na die tempelterrein om te bid. Die een was 'n •Fariseër en die ander 'n •tollenaar. 11Die Fariseër het gaan staan en só oor homself gebid, ‘God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is, wat roof, onreg doen en egbreuk pleeg nie, en ook nie soos hierdie tollenaar nie. 12Ek vas twee keer per week, en ek gee 'n tiende van alles wat ek verdien. ’ 13Die tollenaar het egter op 'n afstand bly staan, en wou selfs nie eers na die hemel opkyk nie, maar het op sy bors geslaan en gesê, ‘O God, wees my, die sondaar, genadig!’ 14Ek sê vir julle, hierdie man, eerder as die ander een, het na sy huis gegaan as iemand wie se saak met God reggestel is. Want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, maar elkeen wat homself verneder, sal verhoog word. ”
Kindertjies geseën
(Matt 19:13-15; Mark 10:13-16)
15Hulle het ook kindertjies na Jesus gebring, sodat Hy hulle kon aanraak. Toe die dissipels dit sien, het hulle die mense berispe. 16Jesus het hulle egter nader geroep en gesê: “Laat die kindertjies na My toe kom, en moet hulle nie langer verhinder nie, want die •koninkryk van God behoort aan mense soos hulle. 17 •Amen, Ek sê vir julle: Wie die koninkryk van God nie soos 'n kindjie ontvang nie, sal beslis nie daar ingaan nie.”
Die ryk maghebber
(Matt 19:16-30; Mark 10:17-31)
18'n Sekere maghebber het Hom gevra: “Goeie Meester, wat moet ek doen, sodat ek die ewige lewe kan erf?” 19Jesus het hom geantwoord: “Waarom noem jy My goed? Niemand is goed nie, behalwe Een, en dit is God! 20Jy ken die gebooie: Jy mag nie egbreuk pleeg nie; jy mag nie moord pleeg nie; jy mag nie steel nie; jy mag nie vals getuig nie; eer jou vader en jou moeder. ” 21Hy antwoord: “Dit alles het ek van jongs af nagekom.” 22Toe Jesus dit hoor, sê Hy vir die man: “Een ding ontbreek jou nog: Verkoop alles wat jy het en deel dit onder die armes uit, en jy sal 'n skat in die hemele hê. En jy, kom hier, volg My.” 23Toe die man dit egter hoor, het hy baie bedroef geword, want hy was skatryk.
24Toe Jesus sien hoe bedroef die man word, het Hy gesê: “Hoe moeilik is dit tog vir hulle wat rykdom het, om in te gaan in die •koninkryk van God; 25want dit is makliker vir 'n kameel om deur die oog van 'n naald te gaan as vir 'n ryk mens om in die koninkryk van God in te gaan.” 26Die mense wat dit gehoor het, sê toe: “Wie kan dan gered word?” 27En Hy antwoord: “Wat onmoontlik is by mense, is by God moontlik.” 28Daarop sê •Petrus: “Kyk, ons het ons besittings agtergelaat en U gevolg.” 29Jesus het hulle geantwoord: “•Amen, Ek sê vir julle: Daar is niemand wat, ter wille van die koninkryk van God, huis of vrou of broers of ouers of kinders agtergelaat het, 30wat nie in hierdie tyd veel meer sal ontvang nie – én in die bedeling wat kom, die ewige lewe.”
Derde lydensaankondiging
(Matt 20:17-19; Mark 10:32-34)
31Hy het die twaalf opsy geneem en vir hulle gesê: “Kyk, ons gaan op na Jerusalem, en alles wat deur die profete oor die •Seun van die Mens geskryf is, sal vervul word. 32 Want Hy sal aan die heidene oorgelewer word, Hy sal bespot en beledig word, en daar sal op Hom gespuug word. 33En nadat hulle Hom gegesel het, sal hulle Hom doodmaak, maar op die derde dag sal Hy opstaan.” 34 Hulle het egter niks hiervan verstaan nie. Die betekenis van hierdie uitspraak was vir hulle verborge, en hulle het nie begryp wat Hy gesê het nie.
Genesing van 'n blinde
(Matt 20:29-34; Mark 10:46-52)
35Toe Jesus in die omgewing van Jerigo kom, sit daar langs die pad 'n blinde man en bedel. 36Toe hy die skare hoor verbyloop, vra hy wat aan die gang is. 37Hulle het vir hom gesê dat Jesus, die Nasarener, daar verbyloop. 38Toe roep hy hardop uit: “Jesus, •Seun van Dawid, ontferm U oor my!” 39Die mense wat voor geloop het, het hom berispe dat hy moet stilbly, maar hy het net al hoe harder uitgeroep: “Seun van Dawid, ontferm U oor my!” 40Jesus het gaan staan en beveel dat hy na Hom gebring word. Toe hy nader kom, vra Jesus hom: 41“Wat wil jy hê moet Ek vir jou doen?” En hy het geantwoord: “Here, dat ek kan sien.” 42Jesus het vir hom gesê: “Sien weer! Jou geloof het jou gered. ” 43En onmiddellik kon hy sien. Hy het Jesus gevolg en God geprys. Die hele volk wat dit gesien het, het God geloof.

Tans Gekies:

Lukas 18: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan