Markus 2:1-5
Markus 2:1-5 AFR20
Toe Hy ná 'n paar dae weer in Kapernaum kom, het dit bekend geword dat Hy by die huis was. Baie mense het daar saamgedrom, met die gevolg dat daar nie meer plek was nie, selfs nie voor die deur nie. Hy was besig om die woord aan hulle te verkondig. Toe kom daar mense wat 'n verlamde, gedra deur vier van hulle, na Hom bring. Omdat hulle hom vanweë die skare nie tot by Jesus kon bring nie, het hulle 'n deel van die dak bokant waar Hy was, opgelig, en nadat hulle dit oopgebreek het, het hulle die slaapmat waarop die verlamde gelê het, laat afsak. Toe Jesus hulle geloof sien, sê Hy vir die verlamde man: “Kind, jou sondes word vergewe. ”





