Nehemia 6

6
Verdere teenstand teen die bouwerk
1Toe die nuus Sanballat, Tobija, Gesem die Arabier, en die res van ons vyande bereik dat ek die muur herbou het en dat daar nie meer 'n bres daarin was nie, alhoewel ek tot op daardie stadium nog nie die deure in die poorte ingesit het nie, 2het Sanballat en Gesem vir my laat weet: “Kom, laat ons byeenkom by Kefirim in die Onovallei. ” Hulle was egter van plan om my kwaad aan te doen.
3Ek het toe boodskappers na hulle gestuur en gesê: “Dit is 'n groot werk waarmee ek besig is; ek kan nie na julle afkom nie. Waarom moet die werk stilstaan omdat ek dit moet los en na julle afkom?” 4Hulle het dieselfde boodskap vier keer vir my gestuur, en ek het hulle op dieselfde manier bly antwoord. 5Toe stuur Sanballat vir die vyfde keer op dieselfde manier sy dienaar na my met 'n oop brief in sy hand 6waarin geskryf staan:
“Onder die nasies word daar vertel, en Gasmu bevestig dit, dat jy en die Judeërs van plan is om in opstand te kom. Dit is waarom jy die muur herbou. En volgens hierdie berigte gaan jy hulle koning word. 7Jy het selfs profete aangestel om in Jerusalem oor jou te verkondig, ‘Daar is 'n koning in Juda!’ Hierdie berigte gaan nou by die koning uitkom. Kom dan nou, laat ons bymekaarkom.”
8Ek het toe aan hom 'n boodskap gestuur en gesê: “Hierdie dinge, dit wat jy beweer, gebeur nie; inteendeel – jy versin dit in jou eie hart.” 9Ja, hulle almal wou ons bang maak en het gedink: Hulle hande sal slap word vir die werk, sodat hulle dit nie sal doen nie. Daarom, maak my hande sterk, my Heer!
10Ek het self na die huis van Semaja, seun van Delaja, seun van Mehetabel, gegaan. Hy was ingeperk, maar het gesê:
“Ons moet by die huis van God ontmoet,
in die •tempel.
Ons moet die deure van die tempel sluit,
want hulle kom om jou dood te maak;
in die nag kom hulle
om jou dood te maak.”
11Ek het egter gedink: Moet iemand soos ek vlug? Wie sal, in my situasie, die tempel binnegaan sodat hy kan lewe? Ek sal nie gaan nie! 12 Ek het besef: Kyk, dit is nie God wat hom gestuur het nie; maar die profesie het hy self oor my uitgespreek. Dit is Tobija en Sanballat wat hom gehuur het. 13Hy is gehuur, sodat ek uit vrees so sou optree en sonde doen. Dan sou hulle rede tot naamskending hê, sodat hulle my kon treiter.
14 Onthou tog, my God, vir Tobija en Sanballat, oor hierdie dade van hulle, en ook Noadja, die profetes, en die res van die profete wat my wou bangmaak.
Voltooiing van die muur
15Die muur is binne twee-en-vyftig dae voltooi, op die vyf-en-twintigste dag van Elul. 16Toe al ons vyande dit hoor, het al die nasies rondom ons bang geword, en ons vyande het in hulle oë baie laag gedaal. Hulle het besef dat hierdie werk met God se bystand gedoen is.
17Ook in dié tyd het die hoëlui van Juda baie briewe na Tobija gestuur, en van Tobija af het briewe na hulle gekom. 18Want baie mense in Juda was met 'n eed aan hom verbonde, omdat hy die skoonseun was van Seganja, seun van Arag; en sy seun Joganan was met die dogter van Mesullam, die seun van Beregja, getroud. 19Ook oor sy goeie dade het hulle gedurig voor my gepraat, en my woorde het hulle telkens aan hom oorgedra. Tobija het briewe gestuur om my bang te maak.

Tans Gekies:

Nehemia 6: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan