Numeri 3

3
Opname van priesters en Leviete
1 Hier volg die geslagsregisters van Aäron en Moses. Die tyd toe die Here met Moses op die berg Sinai gepraat het, 2 was dit die name van Aäron se seuns: Nadab, die eersgeborene, Abihu, Eleasar en Itamar. 3 Dit was die name van Aäron se seuns, die priesters wat gesalf is, wat Moses gewy het om as priesters te dien. 4Maar Nadab en Abihu het voor die Here gesterf, toe hulle in die Sinaiwoestyn ongeoorloofde vuur voor die Here nadergebring het. Hulle het geen seuns gehad nie, en Eleasar en Itamar het onder toesig van hulle vader, Aäron, as priesters opgetree.
5 Die Here het met Moses gepraat en gesê: 6“ Laat die stam van Levi nader kom, laat hulle plek inneem voor die priester Aäron. Hulle moet hom bystaan; 7 hulle moet sy verpligtinge en die verpligtinge van die hele volksvergadering voor die Tent van Ontmoeting help nakom deur diens te doen in die tabernakel. 8Hulle moet toesig hou oor al die toerusting van die Tent van Ontmoeting, en die verpligtinge van die Israeliete help nakom deur diens te doen in die tabernakel.
9“ Jy moet die Leviete tot beskikking stel van Aäron en sy seuns. Hulle is volledig tot sy beskikking namens die Israeliete. 10 Net aan Aäron en sy seuns moet jy dit opdra om die priesterdiens waar te neem. 'n Onbevoegde persoon wat daar indring, moet doodgemaak word.”
11Die Here het met Moses gepraat: 12“ Wat My betref, kyk, Ek het die Leviete tussen die Israeliete uitgehaal in die plek van al die eersgeborenes, die eerstelinge van die moederskoot, onder die Israeliete. Die Leviete behoort aan My 13omdat al die eersgeborenes aan My behoort. Toe Ek al die eersgeborenes in Egipteland getref het, het Ek al die eersgeborenes in Israel vir My geheilig: Die eersgeborenes van mense sowel as diere behoort aan My. Ek is die Here.
14Die Here het in die Sinaiwoestyn met Moses gepraat en gesê: 15 “Skryf die Leviete in volgens hulle families, volgens hulle familiegroepe. Al die manlike persone van een maand en ouer moet jy inskryf.”
16Moses het hulle op bevel van die Here ingeskryf, soos hy beveel is.
17 Dit was die nageslag van Levi met hulle name, Gerson, Kehat en Merari:
18Dit is die name van die nageslag van Gerson; volgens hulle familiegroepe was dit Libni en Simi.
19Die nageslag van Kehat was, volgens hulle familiegroepe, Amram en Jishar, Hebron en Ussiël.
20Die nageslag van Merari was, volgens hulle familiegroepe, Magli en Musi.
Hulle was die familiegroepe van die Leviete, volgens hulle families.
21 By Gerson hoort die familiegroep wat van Libni afstam en die familiegroep wat van Simi afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Gerson afstam. 22Wat betref dié wat ingeskryf is: Die volle getal van almal wat manlik was, van 'n maand en ouer, dié wat ingeskryf is, was 7 500. 23 Die familiegroepe wat van Gerson afstam, het agter die tabernakel kamp opgeslaan, aan die westekant. 24Die leier van die Gerson-familie was Eljasaf, seun van Lael. 25Die verpligtinge van die nageslag van Gerson by die Tent van Ontmoeting was die tabernakel en die boseil, sy dekkleed en die gordyn by die ingang van die •Tent van Ontmoeting, 26die voorhof se seildoeke wat rondom die tabernakel en die altaar is, saam met die voorhof se afskorting en sy toue – al die werk daaraan.
27 By Kehat hoort die familiegroep wat van Amram afstam, die familiegroep wat van Jishar afstam, die familiegroep wat van Hebron afstam en die familiegroep wat van Ussiël afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Kehat afstam. 28Die volle getal van al die manlike persone van 'n maand en ouer was 8 600. Hulle moes die verpligtinge in die heiligdom nakom. 29 Die familiegroepe van die nageslag van Kehat het kamp opgeslaan langs die tabernakel, aan die suidekant. 30 Die leier van die familiegroepe wat van Kehat afstam, was Elisafan, seun van Ussiël. 31 Hulle verpligtinge was al die werk verbonde aan die ark, die tafel, die menora, die altare en die toebehore van die heiligdom waarmee hulle take verrig, asook die afskorting. 32 Die hoofleier van die Leviete was Eleasar, seun van die priester Aäron. Hy was in bevel van dié wat die verpligtinge in die heiligdom moes nakom.
33 By Merari hoort die familiegroep wat van Magli afstam en die familiegroep wat van Musi afstam. Hulle was die familiegroepe wat van Merari afgestam het. 34Wat betref dié wat ingeskryf is: Die volle getal van al die manlike persone van 'n maand en ouer was 6 200. 35 Die leier van die familiegroepe wat van Merari afstam, was Suriël, seun van Abigajil. Hulle het langs die tabernakel tent opgeslaan, aan die noordekant. 36 Die verantwoordelikheid wat aan die nageslag van Merari opgedra is, was die tabernakel se houtraamwerk, die dwarshoute, tentpale en voetstukke, en al die toebehore, al die werk daaraan verbonde, 37ook die tentpale van die voorhof rondom, hulle voetstukke, penne en toue.
38 Die groep wat voor die tabernakel, aan die oostekant, waar die son opkom, voor die Tent van Ontmoeting, moes kamp opslaan, was Moses, Aäron en sy nageslag. Hulle moes die verpligtinge in die heiligdom nakom, die verpligtinge van die Israeliete. 'n Onbevoegde persoon wat daar indring, moes doodgemaak word. 39 Al die ingeskrewe Leviete, wat Moses en Aäron op bevel van die Here ingeskryf het, volgens hulle familiegroepe, elke manlike persoon van 'n maand en ouer, was 22 000.
40Die Here het vir Moses gesê: “Skryf elke manlike eersgeborene van die Israeliete van 'n maand en ouer in. Neem hulle volle name op in die lys. 41 Neem die Leviete vir My – Ek is die Here – in die plek van al die eersgeborenes van die Israeliete; en neem die diere van die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die diere van die Israeliete.”
42Moses het toe, soos die Here hom beveel het, al die eersgeborenes onder die Israeliete ingeskryf. 43Al die manlike eersgeborenes, met volle name, van 'n maand en ouer, was volgens hulle inskrywing 22 273.
44Die Here het met Moses gepraat en gesê: 45“ Neem die Leviete in die plek van al die eersgeborenes onder die Israeliete, en ook die Leviete se vee in die plek van hulle vee. Die Leviete behoort aan My. Ek is die Here. 46Vir die loskoop van 273 van Israelitiese eersgeborenes, wat meer as die Leviete is, 47 moet jy vyf sikkel per kop invorder en dit bereken volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. Die sikkel is twintig gera werd. 48Jy moet die geld vir Aäron en sy seuns gee as losprys vir die eersgeborenes wat meer is as hulle.”
49Moses het die geld vir die losprys van die Israelitiese eersgeborenes, wat meer was as dié wat deur die Leviete losgekoop is, in ontvangs geneem. 50Namens die eersgeborenes van die Israeliete het hy die geld ontvang. Dit was 1 365 sikkel volgens die standaardgewig wat in die heiligdom geld. 51Moses het die losprys vir Aäron en sy seuns gegee in opdrag van die Here, soos die Here Moses beveel het.

Tans Gekies:

Numeri 3: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan