Filemon 1:1-25

Filemon 1:1-25 AFR20

Paulus, die gevangene van •Christus Jesus, en ons broer Timoteus, aan ons geliefde medewerker Filemon, en ook aan ons suster Affia en ons medestryder Argippus, en die •gemeente wat in jou huis saamkom: Genade vir julle, en vrede van God, ons Vader, en die Here Jesus Christus. Ek dank my God altyd wanneer ek aan jou dink in my gebede, omdat ek gehoor het van jou liefde vir al die heiliges, en van jou geloof in die Here Jesus. Ek bid dat jou deelname aan die geloof daadkragtig mag wees, deur jou kennis van elke goeie saak wat daar onder ons is, tot eer van •Christus. Ek is inderdaad baie bly en bemoedig oor jou liefde, broer, omdat die hart van die heiliges deur jou verkwik is. Daarom, al het ek in •Christus groot vrymoedigheid om jou te beveel wat jy behoort te doen, rig ek, Paulus, op grond van die liefde eerder 'n versoek aan jou, juis omdat ek so 'n ou man is, en nou ook nog 'n gevangene ter wille van Christus Jesus. Ek pleit by jou vir my geestelike kind, Onesimus, wat ek tydens my gevangenskap verwek het. Hy het destyds vir jou geen voordeel ingehou nie, maar nou hou hy vir jou en vir my groot voordeel in. Ek het hom na jou teruggestuur, hy wat my eie hart is! Ek wou hom graag by my hou, sodat hy my in jou plek kon dien, terwyl ek ter wille van die evangelie in boeie is. Maar sonder jou instemming wou ek niks doen nie, sodat jy jou goeie daad nie uit dwang nie, maar vrywillig sal doen. Dalk was hy juis om hierdie rede 'n rukkie lank van jou af weg, sodat jy hom vir altyd kan terugkry, nie langer as 'n slaaf nie, maar meer as 'n slaaf, as 'n geliefde broer – in die besonder vir my, hoeveel te meer dan vir jou – liggaamlik, sowel as in die Here. Indien jy my as deelgenoot beskou, verwelkom hom asof dit ek is. En as hy jou enige skade berokken het of jou iets skuld, sit dit op my rekening. Ek, Paulus, skryf hier met my eie hand: “Ek sal betaal.” En dan praat ek nie eers daarvan dat jy jouself aan my verskuldig is nie. Ja, broer, mag ek tog in die Here van jou hierdie voordeel geniet; verkwik my hart in Christus. Met volle vertroue in jou gehoorsaamheid skryf ek vir jou, in die wete dat jy selfs meer sal doen as wat ek vra. Maak terselfdertyd ook die gastekamer vir my gereed, want ek verwag om deur julle gebede aan julle geskenk te word. Epafras, my medegevangene in •Christus Jesus groet jou. So ook my medewerkers Markus, Aristargus, Demas en Lukas. Die genade van die Here Jesus •Christus bly met julle gees!

Gratis leesplanne en oordenkings oor Filemon 1:1-25